Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
John Levendal, onderburgemeester, sterf
Dorp geskok deur “Oubie” se afsterwe

Skokgolwe het Woensdag 16 Septem­ber deur die Breedevallei gevloei toe daar aangekondig is dat die munisi­paliteit se onderburgemeester, John Levendal (69), gesterf het.

Die Breedevallei-munisipaliteit het sy afsterwe bevestig. Luidens ’n verklaring van die DA is Levendal in die vroeë oggendure in die Mediclinic Paarl oorlede ná ’n beroerte.

“Dit is met groot hartseer dat ons die heengaan van ons onderburgemeester bevestig. Hy is in die nag ná ’n kort siekte dood. Sy vrou is ’n paar weke gelede ook oorlede en hy moes van haar afskeid neem. Ons innige simpatie aan sy geliefdes,” het die woordvoerder van die munisipaliteit, Hannelie Botha, gesê.

John levendal
Wyle John Levendal (69).

Levendal, wat ook as “Oubie” (onderburgemeester) of “Meester” bekendgestaan het, was geliefd onder baie mense in die Wes-Kaap. Voor sy politieke loopbaan het hy as skoolhoof in die Hexvallei gewerk.

In 1995 is Levendal verkies tot die uitvoerende burgemeester in De Doorns. Sy ampstermyn in Breedevallei het begin met die verkiesing van hom as ondervoorsitter van die kiesafdeling, waarna hy tot die raad verkies is.

Hy het onlangs twee opeenvolgende termyne as onderburgemeester in die Breedevallei-munisipaliteit gedien nadat hy in 2011 en weer in 2016 verkies is. Sy wens was om nog een termyn te dien.

Levendal laat diep spore agter, nie net in die Breedevallei nie, maar ook in die provinsie. Hy was bekend in die boeregemeenskap en het waardevolle verhoudings met boere en werkers in die omgewing opgebou. Hy was ook baie aktief met betrekking tot gesondheid en veiligheid en het opgetree as skakel tussen die gemeenskap en hierdie Kaapse Wynland-distrikseenhede.

“John sal onthou word as ‘n liefdevolle siel en ‘n toegewyde dienaar van die gemeenskap. Ons gedagtes is by sy familie, vriende en kollegas. Ons wens hulle alle sterkte toe wat hulle gedurende hierdie moeilike tyd nodig het,” het DA se streeksvoorsitter, Erik Marais, gesê.

Jy was enig in jou soort. Jy was ’n regverdige man gewees. Rus in vrede liewe John.

Die nuus het heelwat kommentaar met simpatie en medelye op sosiale media uitgelok nadat inwoners en diegene naby aan hom die slegte tyding ontvang het. “Jy was enig in jou soort. Jy was ’n regverdige man gewees. Rus in vrede liewe John,” skryf Katinka Malherbe.

Johannes Mhloni meen John was ’n man met ’n klein hart en het ’n groot passie en liefde vir sy gemeenskap gehad.

Die burgemeester van Breedevallei-munisipaliteit, Antoinette Steyn, wat die laaste paar jaar ten nouste met hom saamgewerk het, sê sy sal veral onthou hoe lief hy vir die Hexvallei was. In vele vergaderings het hy altyd gesê: “Ja, maar wat van die Hexvallei?” of: “Maar moenie van die Hexvallei vergeet nie!”

Almal in die Hexvallei het vir Meester geken en op filosofiese vlak was hy dan ook die beskermer en groot omgeër van die Hexvallei in die raad.

Sy het die nuus ook op Facebookblad gedeel en aan Standard gesê haar hart is baie seer oor sy heengaan.

“My hart is vanoggend baie seer om my vriend van die afgelope 22 jaar te moes verloor. Hy was soos ’n pa en oupa en vriend vir ons in die raad en het altyd op sy eie manier geluister. Dit is moeilik om ’n kollega so na aan jou te verloor. Hy het my altyd ondersteun. Die Demokratiese Alliansie is in rou gedompel,” sê sy.

Sy voeg verder by dat die Here ’n groot gees kom haal het. “Nou dans hy en antie Koekie saam in die hemel. Die hemeltuin is nou hul tuiste. Mag my liewe vriend sag rus. Ek gaan hom en sy wit karretjie vreeslik mis. My innige simpatie aan sy familie – ek is jammer oor jul verlies.”

Begrafnisreëlings word vandag nog bespreek en gefinaliseer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.