Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Eers skote, toe sterf man in niggie se arms

“Ek het gevoel hoe sy lewe uit hom uitgaan, hoe sy bloed uit hom uitvloei en hoe hy stadig begin koud raak.”

Só beskryf ’n ma van Avianpark die dood van haar 24-jarige seun.

Bradley Matthys is die afgelope Saterdagaand omstreeks 23:30 net twee huise van sy eie huis af deur ’n groep mans in die kop doodgeskiet.

Volgens sy ma, Waveney Matthys, het haar seun by vriende gekuier toe hy sigarette by die huis gaan haal het. Sy het krag by die winkel gaan koop toe ’n motor op die hoek van Kolgansstraat, waar hulle bly, stop en ligte op haar skyn terwyl sy by die winkel staan. Die motor was vol mans en hulle het agteruit gery en toe het skote geklap.

“Ek het skuiling in iemand se agterplaas gaan soek. Hulle het seker vyf keer geskiet. Toe die skote ophou, stap ek weer terug huis toe en dis toe iemand vir my sê Bradley lê daar,” vertel Waveney.

“Ek het vir hom gesê maar dit kan nie wees nie, nie my seun nie, en ek het gaan kyk en my kind het daar op die grond gelê,” vertel ’n baie emosionele Waveney.

Sy niggie, Merizel, het hom in haar arms gehad. “Ek was by vriende toe ek hoor dat Bradley geskiet is. Ek het om gehardloop, hy het nog gelewe en ek het hom opgelig en sy mussie agter sy kop gesit om die bloed te stop, maar die bloed was te veel.”

Volgens sy suster Sashley het hulle hom geskiet en toe aangerand. “Toe hulle hom klaar geskiet het en sien hy lewe nog, toe slaan hulle hom nog met die bottel bo-op sy kop en trap hom op sy bors.”

Bradley se tannie, Ronel Johannesen, sê hy was nie ’n gangster nie. “Hy was nie by enige bende betrokke nie. Die mans wat hom so geskiet het, het vir Bradley geken en hulle doen dít. Nou sit sy twee klein kinders sonder ’n pa,” sê sy.

Toe die polisie en ambulans daar aankom, was hy reeds dood, want hy het baie lank gelê.

“Toe die polisie kom, het ons hulle gewys waar die verdagtes ry, hulle het hulle agterna gesit en toe weer omgedraai en gesê hulle moet na Bradley kyk. Hulle het daai mans net so gelos. Worcester se polisie,” sê Waveney.

Volgens die plaaslike polisiewoord­voerder, kapt. Lindikhaya Mkhontwana, het die polisie ’n soektog begin en binne drie uur is ’n 36-jarige bekende JCY-bendeleier in hegtenis geneem.

“Die verdagte het Dinsdag 3 Julie in die Worcester-landdroshof verskyn nadat hy van moord aangekla is,” sê Mkhontwana.

Waveney, Bradley se twee oumas, sy suster, tannies en niggies sê almal hulle gaan sy stories en grappies baie mis. “Hy was pynlik netjies en so vol lewe, en almal het hom geken,” sê Ronel.

Bradley word Saterdag 7 Julie in Worcester begrawe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.