Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Enkelma oorwin borskanker

“As jy die nuus ontvang, gaan sit daar ’n knop in jou keel. Dit voel asof jou wêreld inmekaar val, maar dit is nie die einde nie. Daar is hoop.”

Dit is die woorde van die 36-jarige Mandy-Estelle Morris, by wie borskanker in 2019 gediagnoseer is.

Mandy, wat ’n beheerkamer-operateur by die ambulansdienste in Worcester is, vertel haar pad was nie aldag maklik nie, maar sy leef haar lewe nou elke dag met nuutgevonde dankbaarheid voluit.

“Die kanker is in Julie verlede jaar by my gediagnoseer. Ek het eers ’n afskeiding aan my tepel ontdek en sowat ’n week daarna ’n knoppie in my regterbors, wat my angstig en bekommerd laat voel het. Voordat ek dokter toe is, het ek eers navorsing op Google gaan doen. Ek is eers vir ’n infeksie in my bors behandel, maar toe dit ná twee weke nog nie verdwyn het nie, het die dokter besluit om ’n mammogram te laat doen en daarna ’n biopsie,” vertel sy.

Graad drie- indringende buiskanker, ’n soort borskanker in 80% van sulke kankergevalle, is ’n paar dae daarna by haar gediagnoseer.

Sy het 16 sessies chemobehandeling, ’n dubbele mastektomie en 11 sessies Herceptin-behandeling vir groeiselle in haar liggaam ondergaan.

“Om eerlik te wees – die proses was nie maklik nie, maar omdat ek al soveel dinge moes verwerk, het die lewe my so sterk gemaak om hierdie wedloop met alles wat ek het, te oorleef.

“Ek het besef soms verstaan ’n mens nie hoekom dinge op daardie tydstip met jou gebeur nie, maar vandag weet ek die Here het geweet waarvoor hy my voorberei, en hy het my voorberei vir die stryd wat voorlê sodat ek die nodige krag gehad het om kanker in die gesig te staar en daarteen te baklei,” verduidelik sy.

Sy vertel hoe kanker haar verander het en hoe haar voorkoms en leefstyl in ’n oogwink verander het.

“Ek het probeer om my lewe so normaal as moontlik te hou vir myself asook vir my seuntjie. Vandag voel ek soos ’n nuwe mens wat ’n tweede kans gekry het om te lewe. Ná my operasie het my histologietoetse skoon teruggekom. Alle lof en dank aan die Here! Al die toetse word in Februarie 2021 herhaal, maar ek bly positief.”

Sy vertel dat sy graag mense wil inspireer en wil wys dat ’n mens hierdie stryd moet bly veg.

“Om die nuus te ontvang, is nie ’n lekker gevoel nie. Ja, dis hartseer, maar dit is nie die einde nie. Wees hartseer, maar ruk jouself reg, want daar is ’n wedloop wat gehardloop moet word en jy gaan dit net met ’n positiewe gemoed wen. Ek het gevind jy kan so baie deur geloof en gebed bereik. Waardeer jouself, waardeer jou gesondheid en waardeer die mense en dokters in jou lewe,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.