Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Familie geskok, het vrae oor seun se dood

Die familie van ’n matriekleerder by Hoërskool Goudini in Rawsonville is geskok en het baie vrae ná die skielike dood van hul seun in die Tygerberg-hospitaal.

Die 18-jarige Adriaan Irish is Saterdag, 28 Julie, oorlede net twee weke nadat hy siek geword het.

“Ons het eers gedink hy het griep en toe hy nie beter word nie, het sy ma hom weer terug dokter toe geneem. Die dokter het onmiddellik besluit om hom by Worcester-hospitaal te kry waar hy opgeneem was. Ons was ingelig daar is fout met sy lewer en dit het ook sy niere aangetas,” sê sy pa Andrew Irish.

Sy hartseer ma, Hannelie Irish, kan bykans nie praat nie. Haar bene bewe en die trane loop.

Volgens Andrew het Adriaan goed aangesterk, maar verlede Donderdagmiddag het die dokter gebel om te sê Hannelie moet hospitaal toe, want hy is na die hoësorgeenheid oorgeplaas, waar hy aan masjiene gekoppel is.

Adriaan is die Donderdagnag na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas. “Die Vrydagoggend het ek en my vrou Tygerberg toe gegaan. Hy het goed gelyk, maar ons het agtergekom sy liggaam het so ’n ruk gegee. Hy het gesê dis seker die drup wat so maak,” sê sy pa.

“Op pad Kaap toe Saterdagoggend bel my vrou om te sê die hospitaal het gebel, ons moet kom. Toe ek die saal kry waar Adriaan gelê het (nadat hy weer geskuif was), het die suster vir my gesê Adriaan is nie meer met ons nie,” vertel Andrew.

“Ek het besluit om te gaan kyk hoe hy lyk. Ons almal het gaan kyk. Jy kon sien Adriaan het eintlik verstik. Hy het weer ’n soort aanval gekry, hy het naar geraak en toe gooi hy op en met die braaksel het hy verstik,” sê sy pa.

“Daar was niemand nie, geen hulp nie. As daar net toesig was. Hy is ’n sterk ou, hy sou dit gemaak het,” sê sy suster, Nicolene Ngetu.

“Hoekom het hulle hom geskuif na daai saal waar hy so verlate gelê het,” vra sy ma.

“Ek dink dit gaan ook meer oor ’n tekort aan personeel. Die regering moet iets doen omtrent Tygerberg-hospitaal, want hulle is die hospitaal waarna almal gaan as hulle baie siek is,” sê sy suster.

“Ek voel nadat dit wat ek in die hospitale gesien het, moet die staat spesiale mense aanstel om jou kind skoon te maak, want die suster doen dit nie reg nie,” voeg Andrew by.

“Die familie het aangedui dat hulle nie wil hê die hospitaal moet in die media reageer nie, maar verkies dat die hospitaal hulle direk moet kontak. Die hospitaal sal, soos die familie versoek, kontak met hulle maak,” sê die hoofkom­munikasiebeampte by Tygerberg-hospitaal, Laticia Pienaar.

Adriaan was baie lief vir musiek en hy wou volgende jaar klankingenieurs­wese gaan studeer. “Hy was ’n vrolike mens, vol lewe en energie. ’n Omgee­mens. Hy het baie mense in hul harte gehad. Ons gaan hom baie mis,” sê Nicolene.

“Ek was baie trots op hom,” voeg sy pa by.


. Adriaan sal Sondag 5 Augustus in Rawsonville begrawe word. Die diens sal 11:00 by Hoërskool Goudini begin.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.