Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Geliefde bestuurder sterf

’n Geliefde winkelbestuurder van Clicks in Worcester is dood en vyf kollegas beseer in ’n grubotsing wat verlede Saterdag 12 Oktober gebeur het.

’n Verkeersman is ook dood en nog ses mense beseer.

Die botsing tussen vier voertuie het op die R60 tussen Robertson en Worcester gebeur toe een motor vermoedelik ’n ander by Mouwers­hoogte verbygesteek het.

Laetitia Adams (40), die winkel­bestuurder van Clicks in die Mountain Mill-winkelsentrum, was net na 17:00 saam met vyf kollegas van die nuwe Clicks-tak wat onlangs in Robertson geopen het, op pad terug Worcester toe.

Adams is op slag dood.

Die ander oorledene is ’n 30-jarige verkeersman van Robertson, Ruhan Douw.

Altesaam 11 mense is ernstig beseer.

Adams het bykans 18 jaar by Clicks gewerk. Sy was voorheen werksaam by Bollieland Crèche en Rainbow Chicken. Sy was ’n kranige hokkiespeler en het haar matriekloopbaan aan Worcester Sekondêre Skool voltooi.

“Dit is ’n groot skok. Vyf van my kollegas is in die voorval beseer, van wie een in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad is en die ander in die Worcester-hospitaal. Laetitia was ’n lieflike mens met ’n mooi hart. Dit is ’n groot verlies vir ons almal,” het ’n Clicks-kollega, Chenille Wehr, gesê.

Clicks se bedryfshoof, Sedick Arendse, sê die hele groep is diep deur die gebeure geraak. “Ons bied tans ondersteuning en berading aan almal wat deur die tragedie geraak is. Dit sluit in almal wat in Worcester, Robertson en Swellendam – die takke waar sy in haar kapasiteit as bestuurder betrokke was – werk. Ons diepste meegevoel gaan aan die families van almal wat in die botsing betrokke was,” het Arendse bygevoeg.

“Laetitia was ’n dierbare mens. Sy was ’n leier op alle vlakke en het gereeld pryse soos werknemer van die maand gewen. Sy was baie trots op haar werk. Sy het haar ma op ’n jong ouderdom verloor, maar sy het soveel dryfkrag en durf gehad,” vertel Laetitia se tannie, Susan Prins.

Adams laat drie kinders, Petina (24), Tamia (10) en Pegram (21) agter. Haar man, Petrus Adams, is diep geraak deur die afsterwe van sy vrou.

“Dit het bykans drie uur geneem vir noodpersoneel om die pad ná die botsing weer rybaar te verklaar. Talle beseerdes is op die toneel behandel en die meeste is in die hospitaal opgeneem. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het AO Julian Plaatjies van die Worcester-polisie gesê.. Laetitia se begrafnis word Saterdag 26 Oktober by Van Huyssteenlaan 67 gehou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.