Die Hoër Tegniese Skool Drostdy het Sondagaand met groot hartseer bekendgemaak dat hul geliefde skoolhoof, mnr. Arthur Underhay, oorlede is weens COVID-19-verwante komplikasies.
Underhay is reeds sedert 2013 deel van die Drostdy-familie nadat hy as skoolhoof by die skool aangesluit het. Hy het bekendgestaan as ‘n baie innoverende leier wie se visie nie net tot Drostdy se voordeel gestrek het nie, maar ook tot voordeel van die dorp en die breë gemeenskap van Worcester.
Nog ‘n kenmerk van dié gewilde skoolhoof was sy omgee-hart vir sy leerders, personeel en werkers, sê die skool se woordvoerder.
“Onder sy dinamiese leiding het die Hoër Tegniese Skool Drostdy gegroei en ongeëwenaarde hoogtes bereik en uitgebrei – onder andere die studentesentrum, astro-hokkiebaan, die innovasiesentrum, gastehuis en die nuwe netbalbaan wat nog in aanbou is. Die skoolterrein was sy trots en is ‘n belewenis vir elkeen wat daar werk of besoek aflê.”
Hy het ‘n besondere verhouding met sy vrou, Annamarie, sy drie kinders en sy kleinkinders gehad. Hy was ‘n navolgenswaardige voorbeeld van ‘n familieman. “Almal wat mnr. Underhay geken het, weet dat hy by uitstek ‘n rugby-entoesias was – die leerders gaan beslis sy Leeus-grappies mis. Arthur Underhay het die Here gedien en sy Christenskap elke dag uitgeleef.”
Underhay het in hierdie pandemie-jaar hoogste erkenning ontvang vir die manier hoe hy die COVID-19-maatreëls toegepas het om sy personeel en leerders se veiligheid te verseker.
Met dit in gedagte en in eerbied vir sy grootse poging, doen die skool ‘n beroep op elke Suid-Afrikaner om in hierdie feesseisoen alle COVID-19-maatreëls tot die beste van hul vermoë toe te pas.
“Hiermee doen ons sy leuse gestand: ‘Drostdy moenie net die beste skool in die land wees nie, maar die beste skool vir die land.’ Ons eer Meneer se nagedagtenis.”