’n Bekende inwoner van Worcester wat diep spore in kerk-meelewing en Kerskore hier in die dorp getrap het, die 83-jarige William “Oom Boet” August, is verlede Dinsdag (8 Desember) aan Covid-19-verwante oorsake in die Worcester-hospitaal oorlede.
Oom Boet, soos hy alombekend was, is hier in Worcester gebore en het eers by HexTex gewerk voordat hy langer as 20 jaar by Die Burger gewerk het, waar hy vir die verspreiding van die koerant in Worcester en omliggende dorpe verantwoordelik was.
Daarna was hy vir 17 jaar tot sy aftrede koster van die VGK se gemeente Worcester-Oos.
Oom Boet was met Titty getroud en hy het agt kinders, 13 kleinkinders en 10 agterkleinkinders.
Hy het sy hele lewe aan diens van die kerk en kerklike aktiwiteite gewy. Hy het eers etlike termyne op die kerkraad van die VGK Worcester-Suid (toe nog NG Sendingkerk) gedien en nadat hy 49 jaar gelede na Van Zyllaan verhuis het, het hy sommer met die intrapslag lid van die NG Sendinggemeente Worcester-Oos se kerkraad geword. Hy is ook deur genoemde gemeente in 1990 na die geskiedkundige sinode afgevaardig, wat uiteindelik tot die totstandkoming van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) gelei het.
Oom Boet was ook deel van Worcester-Oos se mannebediening en was ondervoorsitter van dié vereniging.
Sy ander passie en liefde was Kerskore. Hy was langer as 60 jaar lid van die bekende The Fleet waar hy tot sy afsterwe as president gedien het. Hy was ook bestuurslid van die Kaapse Wynland-Kerskoor-unie en ’n gerespekteerde lid van die Suid-Afrikaanse Kerskoorraad. Hoe ver sy gemeenskapsbetrokkenheid ook in ander sfere gestrek het, blyk uit die feit dat hy ook op die beheerliggame van Roodewal Primêr en Worcester Sekondêr gedien het.
Oom Boet is verlede Saterdag vanuit die VGK Worcester-Oos ter ruste gelê.