Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Geskenk bring hoop vir gestremde

“Skep moed in jouself as jy in ’n moeilike situasie is. Daar is altyd lig aan die einde van ’n donker tonnel.”

Só sê Bettie Schreuder (49), die ma van ’n serebraal gestremde seun van De Doorns, nadat hulle in Desember ’n lewensverbeterende geskenk ontvang het.

Sy sê sy is nou in ’n posisie om ander in haar gemeenskap ook te help.

Bettie se seun, Edwin Charles (22) van Stofland in De Doorns, is sedert geboorte serebraal gestremd. Dié siekte het veroorsaak dat Edwin nie kan praat of selfs vryelik kan beweeg nie.

Edwin se ma sê hy was van geboorte af alleen en het dit van die begin af nie maklik gehad nie.

“Edwin se pa het op my verjaarsdag op 21 Desember – sewe dae voor Edwin se geboorte op 28 Desember 1997 – sy eie lewe geneem. Dit was ’n baie stresvolle tyd vir ons, maar dit het my en Edwin baie geheg aan mekaar gemaak. Dit was baie moeilik vir my om eers na hom om te sien, maar ek het baie gou aangepas en doen dit met liefde vir my seun,” vertel Bettie.

Die Schreuder’s se lewe het egter handomkeer verander toe Edwin einde verlede jaar ’n geskenk van ’n man van Nederland, net as “Oom Frits” aan hulle bekend, ontvang het. Dit was ’n masjien wat Edwin help kommunikeer.

“Die masjien was ’n wonderlike geskenk. Dit het ons lewe baie verryk en maak dit moontlik dat my seun met ons kan kommunikeer en dat hy gestimuleer kan word.”

Die masjien is ingestel op die beweging van Edwin se oë en hy kan dan kies van vooraf geprogrammeerde antwoorde wat hy graag wil kommunikeer.

Bettie het die behoefte in haar gemeenskap gesien vir ’n nasorg vir kinders met gestremdhede en het haar eie nasorg, Sonstraaltjie, begin. Sy sien daagliks na sewe kinders om.

“Ek het besef daar is nie so ’n plek in De Doorns nie en omdat ek al voorheen met kinders met gestremdhede gewerk het en self ’n kind het wat gestremd is, het ek gedink – hoekom nie?

“Dit het alles gebeur omdat Edwin in my lewe gekom het en ek beskou hom as my grootste seëning.”

Edwin laat nie toe dat sy gestremdheid hom terughou nie en hy geniet dit om kerk toe te gaan. Sy ma sê ook dat hy baie lief is vir tegnologie en die masjien stimuleer daardie passie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.