Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Geskiedenis van kleinteater kry hupstoot met plakboekskenking

Die bewaring van die geskiedenis van die Hugo Naudé-museum, Jean Welz-gallery en Kleinteater-kompleks in Russellstraat het onlangs ’n reusehupstoot gekry met die skenking van drie plakboeke.

Die plakboeke dokumenteer die ontstaan en ontwikkeling van die Hugo Naudé-dramaskool, wat later die Worcester-dramavereniging geword het, maar ook meer spesifiek die Kleinteater van die 1930’s tot die 1990’s dokumenteer.

Kleinteater het in 1941 geopen en die Hugo Naudé-dramaskool is in 1946 onder leiding van Juin du Toit en haar suster, Kay (du Toit) Roux, gestig. In 1947 was die Kleinteater die eerste dramaskool in Suid-Afrika wat kort kursusse in toneelspel, grimering, beligting en dekor aangebied het.

Die eerste plakboek begin met ontwerpsketse van Hugo Naudé oor hoe hy die Kleinteater gevisualiseer het. Daarop volg honderde koerantartikels van elke opvoering wat nog in die Kleinteater gehou is en wat dit dokumenteer en resenseer.

Die plakboeke bevat geskiedkundige foto’s van waar voormalige eerste ministers soos Generaal Jan Smuts en dr. D.F. Malan opvoerings in die 1940’s in die Kleinteater bygewoon het. Die artikels toon ook dat beroemde Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Uys Krige, Gregoire Boonzaier, Johannes Meintjes, Piet van Heerden en Dawid Botha ook almal met die Kleinteater se dekor gemoeid was.

Die materiaal in die plakboeke is so omvangryk dat dit eensklaps ’n perfekte onderwerp vir ’n geskiedenistesis oor die ontstaan en ontwikkeling van Suid-Afrikaanse volksteater – en meer spesifiek, die ontstaan en ontwikkeling van plattelandse Afrikaanse toneel – uitmaak.

Die oorspronklike advertensiebiljette, programme, kaartjies, foto’s en resensies van elke opvoering volg kronologies op mekaar.

Volgens die koerantuitknipsels blyk dit dat die toneelopvoerings van Verleden (1945), Die Swart Engel (1946), Die Braaiboud (1946) van die Hertzogpryswenner Gerhard Beukes en die beroemde Piet se Tante (1946) van Pierre de Wet en Mietjie (1947) en Hadde de Liefde Niet (1947) van Eitemal van die eerste stukke was wat in die Kleinteater opgevoer is. Voor dit blyk dit dat die Worcester-dramavereniging meer van ’n rondreisende aard was en dat hulle meer in buurdorpe en in die destydse Worcester-stadsaal opgetree het.

Naas Kat and the Kings van Dawid Kramer en Taliep Pietersen wat in meer onlangse tye in die Kleinteater opgevoer is, is Piet se Tante verreweg die bekendste toneelstuk wat destyds in die Kleinteater opgevoer is.

Die samestelling van die plakboeke is die handewerk van die bekende aktrise Juin du Toit, wat die stigterspresident van die Hugo Naudé-dramaskool was en die dramaskool by die Kleinteater bedryf het. Omstreeks 2000 het Thom Falck en sy vrou, Toekie, die Kleinteater-dramagroep oorgeneem en dit vir ’n paar jaar bedryf. Met dié oorname van die dramagroep het die plakboeke saamgegaan en Thom het dit in veilige bewaring gehou totdat hy geweet het dat hy dit in veilige hande kon oorgee. Die plakboeke is nou in munisipale besit by die Hugo Naudé-museum en Jean Welz-galery, wat deur die Worcester-kunsvereniging bestuur word. Die plakboeke is veilig vir besigtiging in ’n verseëlde glaskas geplaas en sal voortaan slegs met handskoene hanteer word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.