SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Nuus
Groot seun van Worcester laat diep spore
06 September 2018

Die einde van ’n era in Worcester se geskiedenis het vandeesweek aangebreek met die heengaan van die bekende sakeman en voormalige burgemeester George Quénet.

George was op vele terreine ’n baanbreker wie se nalatenskap nog lank in Worcester sal voortleef. Hy was bekend vir sy visioenêre leierskap, toekomsgerigtheid, onverskrokkenheid om dit waaraan hy geglo het in die beste belang van die gemeenskap deur te voer.

Hy is op 27 Desember 1933 in Worcester as seun van Leon Quénet gebore, wat die tweedegeslag Quénet in die aptekersbedryf was. Hy het in die Quénet-familiewoning op die hoek van Hoog- en Meiringstraat in Paglande grootgeword.

George het in 1951 aan Worcester Boys High School gematrikuleer. Hy was in daardie jaar die kaptein van die eerste rugbyspan wat die gesogte Fischer-beker en NCCR-skild vir die skool verower het.

Ná skool het hy hom as apteker bekwaam en by die familieonderneming as derdegeslagapteker aangesluit.

Ná sy pa se aftrede was George aan die stuur van sake en het hy Quénet’s Apteek tot nuwe hoogtes gevoer. Die eiendomsontwikkeling om Quénet’s Arkade was ook ’n groot sukses nadat die oorspronklike arkade in 1996 as wandelgang verleng is.

George het in 1975 raadslid geword en in 1985 opgang tot onderburgemeester gemaak. Van 1991 tot 1993 was hy Worcester se 39ste burgemeester. Hy is in 1993 as raadsheer van die destydse Worcester-munisipaliteit aangewys.

Die dorpsraad van Zwelethemba het ereburgerskap in 1994 aan hom toegeken in ’n gebaar wat tekenend van sy rol as brugbouer tussen gemeenskappe was.

George was ten tyde van sy afsterwe een van nog net vier van die oudburgemeesters van die destydse Worcester-munisipaliteit wat nog geleef het, maar die laaste raadsheer.

Op sportgebied het George ook ’n groot rol gespeel. In 1957 het hy ’n lid van die Worcester Villagers-voetbalklub geword.

Hy was bekend vir sy betrokkenheid oor vele dekades by die Worcester-Lionsklub en het ’n langdienstoekenning vir langer as 50 jaar se toegewyde diens ontvang. Hy was van 1971 tot 1972 president van die klub en het ook die Melvin Jones-lidmaatskapstoekenning, die hoogste eerbewys vir ’n Lions-lid, ontvang.

George was ’n lewenslange lid van die Worcester-muurbalklub, lid van die destydse Worcester-fotografieklub en vir baie lank lid van Worcester se Forelhengelvereniging.

Buiten sy naam wat deur Quénetsingel sal voortleef, sal verskeie plaaslike bakens Worcesteriete altyd aan George Quénet herinner. Onder hom is die bewaringsgebied langs Worcesterdam as ’n voëlpark ontwikkel, Bolandpark het ’n tartanbaan gekry en die Worcester-atletiekklub het sy klubhuis staangemaak.

Sy sin vir die bewaring van Worcester se kultuurhistoriese erfenis was aansteeklik en hy was dol daaroor om staaltjies uit Worcester se vervloë dae te deel.

Wanneer ’n belangrike kultuurbate agteruitgegaan het, het hy self ingespring om dit te help bewaar. Sy afsterwe laat in hierdie sin ’n reusagtige leemte in Worcester se bewaringskringe.

George word oorleef deur sy vrou, Yvonne, sy seun Leon en dogter, Charlotte, albei van Kaapstad, sy jongste seun Anton van Worcester en sewe kleinkinders.

. Sy dankdiens word aanstaande Vrydag, 14 September, 11:00 by die United Church in Kerkstraat gehou.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.