Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Groot skudding onthou, herdenk

Die aardbewing van 1969 het die nag van 29 September 1969, skuins ná tien, die dorpe Tulbagh, Ceres en Wolseley getref en verwoestende gevolge gehad.

Dié skudding het 6,3 op die Richterskaal gemeet en is veroorsaak deur die sogenaamde Worcester-breuk in die aardkors. Honderde huise is verwoes en moes gesloop word. Altesaam 11 mense het in die voorval omgekom. Vandag, 50 jaar later, kyk ons terug na hierdie gebeure wat baie dinge ingrypend verander het.

“Tulbagh word oornag, sonder bedoeling, voorbladnuus landswyd. Op hierdie Maandagaand tref die skudding. Mense staan stomgeslaan, want wie sou ooit kon dink ’n aardbewing sou dié gebied tref? In die rustige Boland? Dit het alles so onmoontlik gelyk, totdat dit gebeur het,” skryf Monique Terblanche in haar meesterstesis in sosiale wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Die geskiedenis van Tulbagh is dramaties verander en die aardbewing het as ’t ware die persepsie rondom hierdie stil plekke herontwerp. Nicholas Krone van die Twee Jonge Gezellen-boerdery vertel dat die aardbewing die “persoonlikheid” van Tulbagh en die ander nabye dorpe verander het. Krone beskryf die aardbewing as die gebeurtenis wat “die Boland wakker laat skrik het”.

Die ekonomiese stryd ná die skudding het dit vir baie onmoontlik gemaak om te herbou en vir ander het dit jare geneem om hulle te hervestig.

Meer onlangs is die Facebookgroep “Aardbewing, 1969 Ervaringe” geskep om die gebeure te herdenk en mense die kans te gee om hul herinneringe van die skudding te deel.

Kinders en kleinkinders van slagoffers deel hul herinneringe op hierdie blad en talle foto’s, video’s en nuusberigte wat deur die jare versamel is, word ook gedeel.

“Ek onthou daardie aand soos gister. Dit was nie te koud nie, maar ook nie te warm nie. Ek was vas aan die slaap toe dit voel of ek uit my bed geruk word. Ek het opgespring en gehardloop, maar dit het gevoel of ons huis op golwe is – daardie dag het alles verander,” was Pieter Bodenstein se inskrywing op Facebook tydens die 40 jaar-herdenking in 2009.

“Ons was by ’n landsdienskamp in Jonkershoek tydens die skudding. Net ná tien die aand was ons besig om op die groot grasperk godsdiens te hou. Die oom was besig om te bid toe die geweldige dreuning begin. Die honde het angstig geblaf – so asof daar groot gevaar aan die kom is. Toe het die aarde begin tril. In die donker het dit gevoel asof die berge op ons gaan instort en die aarde net hier voor ons voete gaan oopskeur. Die oom het net aangehou om te bid asof niks besig was om te gebeur nie. Ons is daarna almal tiekieboks toe. Tevergeefs het ons probeer om ons ouers te kontak om te hoor of hulle veilig was. Eers sowat twee dae later kon ons kontak met hulle maak. Ons ouers het ook nie geweet of ons veilig was nie,” lui Martie Dippenaar se inskrywing op die blad.

Die Witzenberg-munisipaliteit het onlangs ’n gedenknaald onthul ter nagedagtenis aan die gebeure en ook aan dié wat hul lewe in die skudding verloor het.

Rosette Jordaan, ’n skrywer van Tulbagh, het ook vanjaar ’n gedenkboek onthul waarin die geskiedenis van die gebeure opgeteken lê. Tulbagh Onthou (50) is ’n boek vol stories en foto’s van die gebeure in Tulbagh, Wolseley en Ceres.

Die Wes-Kaapse sentrum vir rampbestuur het onlangs ook op SABC2 gepraat oor die skudding en hoe hulle maatreëls vir moontlike soortgelyke situasies ingestel het. . Besoek “Aardbewing, 1969 Ervaringe” op Facebook om herinneringe aan die skudding te deel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.