Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hardhorende vrou in haar woonstel vermoor


’n 44-jarige hardhorende vrou van Worcester is Saterdag helder oordag in haar woonstel vermoor nadat sy vermoedelik van die middedorp af agtervolg is.

Luidens die polisie het sy volgens getuienis in die woonstel om haar lewe geveg nadat die aanvaller haar deur afgetrap het.

rozel botha
Rozel Botha is wreed in haar woonstel vermoor. Foto: Verskaf

Rozel Botha se lyk is na die aanval aan die buitekant haar woonstel, naby die trappe, in Chanhym Hof-kompleks wat in Russellstraat geleë is, ontdek.

Volgens ’n familielid wat na aan Botha was, het sy glo winkel toe gestap om sigarette te gaan koop en die verdagte moes haar agtervolg het toe sy teruggekeer het. ’n Verdagte is intussen in hegtenis geneem.

“Hy moes haar dopgehou het en agtervolg het. Sy het deur die groot hek geloop en dit maak mos maar stadiger toe. Sy dra boonop ook ’n gehoorstuk, so sy kan nie lekker hoor nie. Sy kon seker nie hoor dat iemand haar agtervolg het nie,” sê die familielid.

Toe Botha besef iemand agtervolg haar tot by haar woonstel het sy die deur probeer toedruk. “Die man het die deur afgetrap en haar aangeval,” sê die familielid verder.

Volgens die plaaslike polisiewoordvoerder, AO Julian Plaatjies, het die voorval omstreeks 12:25 gebeur. “Daar word vermoed dat die verdagte die slagoffer van die dorp af agtervolg het. Die deur van die oorledene was oopgetrap om toegang te verkry en bewyse in die huis dui op ’n stryd aan,” sê Plaatjies.

Plaatjies sê ’n voorlopige ondersoek wat op die toneel gedoen is, het aan die lig gebring dat Botha veelvuldige steekwonde opgedoen het. “Die mediese nooddienste het die slagoffer op die toneel dood verklaar,” sê hy verder.

Volgens die familielid het Botha drie jaar terug Worcester toe gekom. Haar twee seuns is nog in Port Elizabeth, van waar sy oorspronklik is. “Sy was bitterlik lief vir haar kinders. Rozel het drie jaar terug Worcester toe gekom. Sy sou ’n nuwe werk begin het en was opgewonde,” sê sy.

Die familielid sê dit is die hardste slag wat hulle nog ooit getref het. “Rozel was ’n wonderlike mens. Sy was ’n omgeemens wat haar laaste sou gee as iemand iets nodig gehad het. Dit is hartverskeurend vir ons as familie, die manier hoe sy van ons weggevat is. Dit is so onwerklik en eenvoudig net ’n groot slag vir ons as familie. Ons is almal lief vir haar en sal haar baie mis,” sê die familielid verder.

Plaatjies sê deur inligting wat op die toneel versamel is en opgevolg is deur sers. Anneline Filies en die Breederivier K9-lede AO Nolen Erasmus en konst. Juan Pierre Gempies, is ’n verdagte in hegtenis geneem.

“Die verdagte is in besit van items wat aan die slagoffer behoort, gekry. Hy sal op ’n aanklag van moord in die Worcester-landdroshof verskyn,” sê Plaatjies.

Enigiemand met meer inligting rakende hierdie wrede voorval wat die ondersoek kan help, word versoek om die ondersoekbeampte, AO Sam Smith, by die Worcester-speurtak by 023 348 6100 te skakel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.