Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hekkie na Hugo Naudé-tuin oop

Worcester se sakeontwikkelings-distrik, die Worcester Business Improvement District (WBID), het hande met die Worcester-Kunsvereniging gevat en die tuin van Hugo Naudéhuis by Russellstraat 115 vol mooi inheemse plante geplant in ’n poging om die tuin tot sy eertydse glorie te herstel.

Ongekende belangstelling

Na afloop van die 150-jaar-herdenking van Hugo Naudé se geboorte op 23 Julie 1869, het ongekende nuwe belangstelling in die lewe van die kunstenaar nasionaal en internasionaal ontstaan.

Uitstallings deur die Worcester-kunsvereniging, die Hugo Naudé-kunsskool en Aalst se Academy of Fine Arts in België, ’n retrospeksie tydens die Hermanus FynArts Festival en ’n praatjie oor sy lewe deur die bekende veilinghuis Strauss & Co, tesame met ’n reeks artikels oor sy lewe in Standard, het daartoe bygedra dat sy lewe en werk aan ’n nuwe geslag kunsliefhebber bekend gestel is.

Saam met hierdie ongekende nuwe belangstelling het besoekersgetalle aan Hugo Naudéhuis voor die nasionale Covid-19-inperking toegeneem.

Die Worcester-kunsvereniging en die WBID wou dus graag hê die huis moes optimaal aan toeriste vertoon en terselfdertyd ook as ’n “groen long” in ’n baie besige deel van Worcester se middedorp dien.

Oorspronklike voorkoms van die tuin

Aanvanklik was Hugo Naudéhuis op ’n veel groter erf geleë en het die huis se erf, volgens die skilderye wat hy van sy agterplaas geskilder het, regdeur na die Durbanstraat-kant geloop, waar dit dan deur die kleiner erwe van Durbanstraat se huise begrens is. Agter die huis was boorde vrugtebome, rye mielies en groentetuine. Agter was ’n groot vyeboom waar die pers sap uit die vye gedrup het, en daar was ook groot moerbeibome.

Voor die huis was destyds al die reusepalmboom wat vandag nog daar staan, sowel as ’n reusesederboom wat van Libanon afkomstig was.

Voor was rotstuine en ’n visdam, wat vandag nog bestaan. In die visdam se omgewing was daar oorspronklik ’n Japanese garden. Die blombeddings het bestaan uit veldblomme, malvas en vingerhoedjies (foxgloves) en klein heininkies wat pynlik netjies geknip was.

Op teen die ateljee se buitetrap was ’n bos bloureën (wisterias) wat teen die prieel gerank het en waarvan die blomme afgehang het.

Hugo Naudé was lief om hierdie bloureën met ’n patroon van sonlig wat deurkom en skaduwee wat ondertoe val, te skilder.

Naudé het ’n verstommende botaniese kennis gehad en was ook ’n baanbreker in die verbouing van inheemse plante in die Kaap. Te oordeel aan sy skilderye was hy veral lief vir die gousblomme (arctotis), bloubos-madeliefies (felicia), bergmadeliefies (ursinia) en botterblomme (venidium), proteas, sonneblomme en speldekussings (leucadendrons) in sy tuin.

Hy het gewoonlik plantjies teruggebring huis toe en die steggies het hy versigtig in oopgesnyde aartappels gedruk. Hy het regdeur die jaar geplant, steggies ingedruk, gesaai en geoes.

Dit is ook bekend dat die stoep voor die huis in herfstyd vol blare gelê het wat van die bome afgeval het en dat dit nooit weggevee is nie, omdat die kleure so mooi was om na te kyk.

’n Steggie van ’n kokerboom wat hy van een van sy reise deur Namakwaland saamgebring het, sowel as die reusepalmbome wat hy geplant het, oorleef vandag nog in die voortuin.

Die tuine het ook Russellstraat 117 langsaan ingesluit, maar hierdie gedeelte van die tuin is ongelukkig ná sy dood in 1941 deur die Worcester-kunsvereniging verkoop ten einde kapitaal te verkry wat vir die totstandkoming van die Hugo Naudé-museum aangewend kon word.

Plant van nuwe plante

In die hede: Ná ’n rondsoekery is skenkings van inheemse plante onlangs bekom en Danie Rousseau, die bedryfsbestuurder van die WBID, en sy span het dit toe mooi in die tuin geplant.

’n Skenking is van onder meer die bekende Worcesteriet Manie Nieuwoudt van Olyflaan in Rouxpark bekom, wat toevallig ’n boorling van Namakwaland is en die tuin van besondere plantjies kon voorsien, wat waarskynlik wel vroeër in die tuin sou gestaan het.

Aalwyne, bergbietou, grondbedekkers, katsterte, krassulas, malvas, plakkies, rankaalwyne, spekbome, suurvye, vetplante, vygies, woestynrosies en zwartkop is onder meer aangeplant.

Die Breedevallei-munisipaliteit het ook onlangs besproeiing vir hierdie doel aangebring.

Restourasie van die historiese tuinhekkie

Die historiese tuinhekkie voor die huis, wat in talle van Hugo Naudé en ook in Jean Welz se skilderye voorkom, is deur Rousseau en sy span gerestoureer nadat die hout begin verrot het en die hekkie lank terug afgeval het.

Hierdie hekkie en die klipmuur het ook ’n interessante storie: Hugo Naudé het in 1919 ’n identiese klipmuur voor sy huis, asook voor Pierre Rabie sr. se huis by Kerkstraat 27, uit klip van die voet van Rabiesberg op die berggronde van die plase Sonja en Leipzig in Nuy gebou.

Hy het in ruil vir die klip van Rabie se plaas die tuinhekkie voor Rabie se huis by Kerkstraat 27 gemaak.

Hierdie hekkie was altyd ’n belangrike element in Naudé se skilderye omdat dit as “deurgang” gedien het wat besoekers van die werklikheid na die wonderwêreld wat sy huis en studio eens was, verplaas het. Gelukkig kon die hekkie nou ook betyds gered word.

Enigiemand wat graag aan die projek wil deelneem en plante vir die tuin wil skenk, is welkom om dit by die Hugo Naudé-museum en Jean Welz-galery by Russellstraat 115 te kom afgee en om met Anel O’Neill, die kurator, te skakel by 023 342 5802, of stuur e-pos na hugonaudehouse@gmail.com

  • Dr. Julian Kritzinger is die Breedevallei se burgemeesterskomiteelid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling, toerisme, kuns en kultuur.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.