Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Help, maar net as jy kan’;

’n Bekende toeristeaantreklikheid net buite Worcester, wat tans diere soos olifante en renosters huisves, wil nie geld of donasies vra nie, maar wil graag die gemeenskap wat kan help om hulp vra.

Fairy Glen, ’n klein stukkie natuur-hemel, is ’n familieonderneming aan die voet van die beroemde Brandwachtberge net buite Worcester – ’n rustige en landelike omgewing omring deur Kaapse fynbos, watervalle en natuurlik die Groot Vyf.

Pieter de Jager, die eienaar met ’n passie vir die beskerming van wild, het dié wildreservaat oor die jare heen begin om ’n tuiste aan verskillende spesies te gee. Ondanks soveel teenkanting teen die aanhou van olifante het hy daarin geslaag om twee bulle uit kampe uit die Krugerwildtuin te red voordat hulle vir plesierritte gebruik of selfs van kant gemaak sou word nadat hulle “onbevoeg” verklaar is om verder in die wildtuin aan te bly.

“Dit was omtrent ’n missie. Ons het hulle so effens langer as ’n dekade gelede gered en hierheen gebring, wat glad nie ’n maklike taak was nie. Albei bulle vaar goed saam met hul voltydse wagte om te verseker dat hulle nie op aangrensende wingerde toesak nie. Hulle is baie geliefd onder besoekers en toeriste uit alle hoeke van die aardbol, maar ek moet bieg – Covid-19 het baie onvoorsiene uitdagings gebring,” vertel De Jager aan Standard.

Lethaba en Klaserie, die twee bulle, is genoem na twee van die kampe in die Krugerwildtuin. Hulle vreet ongeveer 150 kg per dag net aan hul spesiale aanvullings. Hulle vreet ook perdepille, groente, vrugte en lusern.

“Ons verwelkom 1000de toeriste wat jaarliks besoek aflê. Nou, met die pandemie wat die wêreld getref het, het dit ons lewenslyn om hierdie diere te help en te voer, met onmiddellike uitwerking afgesny. Wat kan ons doen?” vra hy.

De Jager is bekend in wildkringe nadat hy nou betrokke was by die rehabilitasie van renosters ná ’n stroopaanval in dieselfde natuurreservaat in 2011. Die opspraak in die media ná hierdie voorval het hoogty gevier, maar dit het nie De Jager of sy span ondergekry nie. Inteendeel – sy liefde vir sy diere en die moeite wat hy sal doen om hulle te red en te beskerm, is wonderbaarlik.

“Die diere maak hierdie plek. Ons is dankbaar vir die omgewing en dankbaar vir die natuurskoon om ons, maar die diere is die hartklop van Fairy Glen,” sê hy.

“Die glimlag wat ’n kind op sy of haar gesig het as hulle die olifante of leeus van naby kan besigtig, is onbeskryflik. Die afwagting en opgewondenheid wat ’n internasionale toeris het om die Groot Vyf te sien, maak jou sommer saam met hulle opgewonde.”

Hy verduidelik ook hoe hy verder graag minderbevoorregte skoolkinders die kans gee en gun om ook in die natuur te kom deel en dat hy ook sensoriese en interaktiewe klasse aan dowe en blinde besoekers verskaf.

Fairy Glen pronk egter met die Groot Vyf gesetel in die pragtige natuurskoon. Leeus, renosters, olifante, buffels en luiperds kan af en toe gesien word.

Hoewel die luiperds meestal in die berg is, is daar altyd die moontlikheid dat die natuur jou daar in sy volle glorie sal verras.

De Jager het in 2018 ook ’n kroeg en restaurant by die ingang van die reservaat geopen en dit het vinnig ’n gewilde kuierplek vir oud en jonk geword.

Die kuierplek, Tuskers, moes egter ook – soos talle ander plekke – hul deure aan die begin van die nasionale inperking sluit.

“Die kroeg lê my na aan die hart, maar nie op dieselfde manier as wat die diere doen nie. Ons toekoms lyk nou nie meer elke dag so rooskleurig soos dit eens op ’n tyd gedoen het nie, maar ons probeer alles in die beste belang van die diere doen,” verduidelik hy. “Dit sal wreed wees om nou weer die olifante te moet skuif. Ons sal net moet oorleef en ons baklei om aan die gang te bly totdat die toerismebedryf weer op dreef is. Ek wil nie geld hê nie en bedel is nie my bedoeling nie. Ek sal nooit in hierdie tyd kos kan vat vir diere wat eerder ’n honger kind kon voed nie, maar ek vra hulp – net as jy kan. As jy lusern of ou vrugte en groente het, laat weet my. Ek sal dit baie waardeer, maar ek glo die twee bulle sal dit meer waardeer. Ek het ook tans 50 werknemers in my span”

Dié olifante, tesame met die ander diere, verslind tonne kos elke week.

De Jager sien uit na wat die toekoms post-Covid-19 gaan inhou, en hoop om binnekort weer gaste in die Groot Vyf-paradys in die hartjie van die Boland te kan verwelkom. Dit is ook die mees suidelike groot vyf in Suid-Afrika.. Enigiemand wat bereid is om ’n skenking van enige soort te doen of wat in kontak wil kom, kan vir Nico by 071 217 1201 kontak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.