Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hier by ons gee elkeen sy deel

Die jaar 2020 het met groot verwagting vir seker elkeen in ons land aangebreek met nuwe vooruitsigte, aspirasies en vir seker hope verwagtinge. Min of seker geeneen het verwag dat alles hier teen Maart van dieselfde jaar soos handomkeer sou verander nie.

Die gevreesde Covid-19 was skielik op ons voorstoep en daarmee saam het hartseer, vrees, bekommernisse en natuurlik die lewensverlies van dierbares en sommer net mense baie na aan en rondom jou nou ’n werklikheid kom word. Skielik was maskers dra oral waar jy sit of staan, hande was elke twee tot drie tellings, veilige afstande handhaaf en wegbly van ’n gekuier by familie en vriende die norm.

Groot aanpassings moes aan jou daaglike roetine gemaak word. Skoolgaande kinders moes daaraan gewoond raak om slegs op sekere dae skool toe te gaan terwyl daar selfs ’n demper op kerkbywoning en die bywoon van en deelname aan sportbyeenkomste geplaas is. Namate die dae aangeloop en mense intussen al minder gehoor gegee het aan dit wat van ons as landsburgers verlang word, moes die land se president menige keer nuwe maatreëls afkondig om ons tot orde te roep.

Boonop het die gevangenisstraf wat oudpres. Jacob Zuma vir minagting van die hof gekry het, groot chaos en algehele anargie teweeg gebring en is ons pragtige land die afgelope week of twee verder aan flarde geruk.

Al hierdie dinge wat ons moes deurmaak, het natuurlik ’n uitwerking op ons daaglike doen en late gelaat. Sakeondernemings wat weens die resessie voorheen maar gesukkel het om kop bo water te hou, moes ongelukkig nou hul deure finaal sluit. Ander het weer afgeskaal en van die groot groepe het van hul werkerskorps ontslae geraak. Van sommige werkers word nou verwag om verkorte ure (teen minder inkomste) te werk terwyl van ander verwag is om nou van die huis af te werk – alles deel van ’n “nuwe normaal’’ waaraan ons gewoond moes raak.

Met die aanloop tot die viering van die ikoon wyle Nelson Mandela se verjaarsdag die afgelope Sondag, het ek ’n punt daarvan gemaak om myself te gaan vergewis van hoe ons as landsburgers ons tyd bestee om hulde te bring aan die nalatenskap van ons gevierde ikoon. Ek en ’n paar vriende het ons 67 minute opgeoffer om kospakkies aan ’n groepie haweloses op die Plein te gaan uitdeel. Hier het ek opnuut besef hoewel ons ook deur die pandemie geraak word, is ons darem nog veilig en gesond en het ons ’n dak oor die kop, elke dag kos om te eet en elke aand ’n warm bed om in te slaap.

Nadat ek dit alles waargeneem het, het ek daarna seker gemaak om deur ons woonbuurte te ry en proefondervindinglik te gaan ervaar hoe dit in ons onderskeie buurte gaan en wat alles gedoen word om ons mense in nood van hulp te wees. In Roodewal en Avianpark reik verskeie individue en hulporganisasies uit om mense in nood te help. Ek was egter aangenaam verras met wat ek hier neffens die woonstelle in Riverview gesien het. ’n Gemeenskapsaktivis, David Daniels, en ’n span ywerige helpers in ’n gebou langs Victoriapark Primêr (wat by die plaaslike munisipaliteit gehuur word), is deel van Women of Hope, ’n organisasie sonder winsbejag, wat vyf dae per week kos aan nagenoeg 400 volwassenes en kinders uitdeel. Hierdie hulpbehoewendes is nie net tot die woonstelle en Riverview beperk nie, en hulle kry daagliks mense en kinders uit Avianpark, Parkersdam en selfs ander dele van ons dorp. Volgens Daniels bestaan Women of Hope amptelik van September 2013 af, maar is reeds van 2010 af aan die gang. Aan die begin het dit maar moeilik gegaan om dit waarvoor hulle geroepe is, weens te min geld tot uitvoer te bring. Dit gaan egter nou beter. ’n Naamlose skenker gee maandeliks ’n stewige bedrag, hulle ontvang ’n gedeeltelike skenking van die jaarlikse burgemeester/SN Pool-gholfdag, gereelde voedsel-bydraes van die DO More Foundation en skenking van gemeentes in die dorp, terwyl hulle ook die afgelope vyf maande deel is van die regering se Illitha Labantu-projek wat help dat alles vlot verloop en in al meer behoeftiges (getalle wat by die dag groei) se onmiddellike nood voorsien kan word. Dit is egter hartseer om te sien hoe ouers wat die een of ander tyd ’n werk gehad het, nou weens Covid-19 ook hul trots in die sak steek en om hulp kom aanklop.

Ook by die Nuwe Begin-skuiling is deesdae meer en meer mense van alle rasse wat kom aanklop omdat die erge winterkoue en gepaardgaande ongerief net te veel vir hulle geword het.

Dat die nood egter groot is, kan daagliks gesien word wanneer jy jou vullisdrom weekliks uitsit om leeggemaak te word en haweloses (mans en vroue) daarop toesak met die verwagting dat hulle iets te aas sou kry wat hulle kan gaan verkoop om in hul onmiddellike behoeftes te voorsien.

Dit is ’n werklikheid, en met die werkloosheidskoers wat by die 40% draai, kan ons maar net bid dat die winde van verandering gou weer in die regte rigting vir Suid-Afrika sal waai en glimlagte op ons landburgers se gesigte sal kom sit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.