Die tweede vlaag van Covid-19- infeksies is besig om sy tol in die Breedevallei te eis.
Worcester-hospitaal se kapasiteit word tans tot die uiterste getoets. Die hospitaal was op 11 Januarie 84% vol: 231 van die beskikbare 275 beddens was beset.

Foto:
“Daar word ekstra ruimte ingeruim soos dit nodig is. Daar is tans 77 Covid-19-pasiënte in die hospitaal en ’n verdere 33 mense wat vermoedelik Covid-19 het wat nog op uitslae wag,” sê die woordvoerder van Worcester-hospitaal, Maret Lesch.
Lesch noem verder Sonstraal-hospitaal speel tans ’n belangrike rol om die druk van Worcester-hospitaal te verlig. Dié instansie word tans as ’n intermediêresorgfasiliteit gebruik.
Landwyd is daar vanjaar minder traumagevalle in noodeenhede op Oujaarsdag aangemeld. Plaaslik word die verligting op die noodeenheid ook gevoel.
“Met die verbod op drankverkope het ons ’n beduidende daling in traumagevalle wat padongelukke en interpersoonlike geweld insluit.”
Die toetssentrum is tans onder baie druk en uitslae neem nou langer om verwerk te word.
“Ons vra mense om geduldig te wees en verantwoordelik op te tree. Terwyl hulle op uitslae wag moet hulle isoleer. Die hele Wes-Kaap het nou meer toetse wat deur die stelsel moet gaan en ons hoop om binnekort weer na normaal terug te keer.”
Worcester-hospitaal se personeel is ook deur die virus getref. Altesaam 209 personeellede, asook twee vrywilligers is positief vir Covid-19 getoets.
Daar is tans 26 aktiewe gevalle en vyf personeellede wat nog wag op uitslae.