Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Huis PJ Strauss hard getref die week

PJ Strauss, ’n tehuis vir bejaardes in Ceres, is die afgelope paar dae hard deur dié Covid-19-pandemie getref met altesaam 10 van sy inwoners wat reeds positief getoets is.

Standard het verneem dat drie van dié inwoners tans sorg in die hospitaal ontvang terwyl die ander sewe by die tehuis versorg word.

“Die inwoners het almal ligte simptome getoon, maar in die belang van ons ander inwoners en personeel het ons hulle spoedig in afsondering geplaas totdat ons toetsing kon reël,” sê die uitvoerende hoof van Badisa, Christine Quickfall.

Standard het verneem dat mense Woensdagaand (22 Julie) op sosiale media paniekbevange was toe hulle hoor dat daar ’n paar sterfgevalle by Huis PJ Strauss aangemeld is, maar volgens Quickfall is die sewe sterfgevalle wat hulle die afgelope week gehad het nie as gevolg van Covid-19 nie.

Die behandeling en versorging wat tans aan die sewe inwoners van PJ Strauss-tehuis gegee word, word volgens streng protokolle bestuur en gemonitor. Quickfall het ook bygevoeg hulle toestand is tans stabiel en hulle sterk goed aan.

“Ons het sedert die begin van Maart by alle Badisa-sentrums omvattende riglyne en protokolle geïmplementeer en dit was deurentyd noukeurig nagekom,” sê Quickfall.

Quickfall het verder aan Standard genoem dat drie personeellede die virus opgedoen het en twee is in selfafsondering terwyl die ander personeellid stabiel in die hospitaal is.

Ons het wel een bevestigde Covid-19-sterfte aangemeld, maar die res van die sterfgevalle was weens natuurlike oorsake.

“Ons het wel een bevestigde Covid-19-sterfte aangemeld, maar die res van die sterfgevalle was weens natuurlike oorsake.”

Huis PJ Strauss voldoen volgens die bestuur aan die nodige voorsorgmaatreëls en almal maak gebruik van beskermde klere om hulself te beskerm. Die hele fasiliteit is ook Donderdag (23 Julie) vir die derde keer sedert die uitbreek van die pandemie in Maart vanjaar diep skoongemaak.

“Met die uitbreek van die Covid-19-pandemie was daar ’n besluit geneem om alle besluitneming te sentraliseer omdat die dinamika van die virus onbekend was en om besluitneming konsekwent uit te voer,” vertel Quickfall.

Uitgebreide protokolle en riglyne vir voorkoming is uitgereik en personeel is toepaslik opgelei. Die sentrale bestuur word daagliks op hoogte gehou van die stand van infeksies by alle Badisa-programme en uitdagende kwessies word ook daagliks deurgegee.

“Dit stel ons dus in staat om neigings te identifiseer en hulp te verleen op ’n individuele basis om ons volle ondersteuning te gee.”

Quickfall het verder genoem dat inwoners glad nie die perseel mag verlaat nie en as hulle onafwendbaar die perseel moet verlaat dan geld streng afsonderingprotokolle as hulle terugkeer.

“Ons skep wel die geleentheid vir familie en vriende om binne afstand van sig en gehoor hul geliefdes te sien om vereensaming te voorkom. Geskenke en pakkies word toegelaat, maar word eers behoorlik gereinig.”

Quickfall noem verder die pandemie was “lewensveranderend en dramaties” met geen resep wat as voorskrif kon dien nie.

“Die Badisa-organisasie is dus geweldig trots op die bestuurders en personeel se kollektiewe kundigheid, ervaring en toewyding om die virus by ons geriewe te bekamp.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.