Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Inwoner ontevrede

’n Inwoner van Kalkoenstraat in Avianpark sê ’n saak wat hy teen polisiebeamptes aanhangig gemaak het, het sedert verlede jaar steeds geen resultate opgelewer nie.

Phillip van Zyl sê hy het Vrydag 5 Januarie 2018 ’n saak van menseregteskending, die rig van ’n vuurwapen en beskadiging van eiendom teen twee polisiebeamptes by die Worcester-polisie aanhangig gemaak nadat hulle glo sy eiendom beskadig het.

Dié voorval het gebeur nadat geweld tussen inwoners en polisiebeamp­tes in die omgewing uitgebreek het.

“Kinders het mekaar vroegoggend in die buurt geskiet. Een is toe naby my huis geskiet. Nooddienste en die polisie is daardie oggend na die toneel naby my huis ontbied. Ek was daardie oggend besig met werk op my erf,” vertel Van Zyl. “Die mense in die omgewing het begin saamdrom, want almal wou weet wat het gebeur,” voeg hy by.

Volgens Van Zyl het inwoners skielik die polisiebeamptes op die toneel met klippe bestook. “Mense het die polisie gegooi toe skiet die polisie met rubber­koeëls terug. Die mense het toe uitmekaar gespat.”

Van Zyl sê drie mense het sonder toe­stemming in sy huis gehardloop en twee polisiebeamptes is agterna. “Die polisie­beamptes het een van die mense wat ook klippe gegooi het in my huis gesoek.”

Hy sê een van die beamptes het gewelddadig opgetree. “Die polisie het aangedring dat ek my eie huis moes verlaat. Hy het toe die geweer op my gerig. Een van die polisiebeamptes het gesê hy gaan my skiet as hy moet.”

Volgens Van Zyl het die polisie die man wat na bewering klippe gegooi het, in die sitkamer aangekeer. “Ek het gehoor hoe woel dit. Die beamptes het op die man geskiet.” In die herrie tussen die man en die polisiebeamptes is Van Zyl se meubels beskadig. “My kas, mure en stoele is beskadig.”

Van Zyl sê die saak sloer. “Daar is nie vordering nie. Ek en my vrou het dieselfde dag die saak gaan maak.” Intussen het Van Zyl ’n eisvorm ingevul. Hy sê hy sou graag wou hê dat die twee polisiebeamptes vervolg word.

By navraag het die woordvoerder van Worcester-polisie, kapt. Lindikhaya Mkhontwana, bevestig dat ’n saak teen die polisie geopen is. “Die ondersoek­beampte is tans besig om reëlings te tref om die beamptes wat by die voor­val betrokke was te identifiseer,” sê Mkhontwana.

Mkhontwana sê ook dat daar gereeld terugvoer aan Van Zyl verskaf word oor die stand van die ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.