Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kapelane ook onbesonge helde

Net soos noodpersoneel­lede word kapelane na brand- of ongelukstonele ontbied.

In Julie vanjaar, toe ’n vragmotor wat gas vervoer het in Worcester ontplof het, was ds. George Murray (54) een van die kapelane wat op die toneel diens verrig het.

Standard het met Murray in sy kantoor by die Calvyn Protestante kerk oor sy werk as kapelaan gesels. Hy is al langer as vyf jaar lid van die Chaplains Alert Western Cape (CAWP).

Brandweerdepartemente het hul deure vir nooddienskapelane amptelik in 1998 oopgemaak. Die behoefte aan kapelane is deur ’n verslaggewer van die VSA, Ken Gaydos, geïdentifiseer. Hy het gesien ’n behoefte bestaan om die families en geliefdes van brandweermanne, para­medici en verkeersbeamptes wat by traumatiese voorvalle betrokke was, te ondersteun. Hy het die International Chaplains Ministry gestig en in 1990 in Suid-Afrika bekendgestel.

Kapelane is vrywilligers wat hul tyd in tye van nood aanbied.

Murray sê dis vir hom ’n eer om ’n diens in die gemeenskap te lewer en hy was nog nooit spyt dat hy aangesluit het nie.

“ ’n Predikant wat ek in die Kaap geken het, het my genader om as vrywilliger betrokke te raak. Ek het twee weke vir opleiding gegaan, ’n driemaande-proeftydperk gehad en toe ek dit suksesvol voltooi het, het ek my uniform ontvang,” vertel Murray.

Kapelane gee berading aan slagoffers en geliefdes van oorledenes en bied hulp aan brandweermanne op tonele. Een van hul verantwoordelikhede is ook om die doods­tyding aan die families van oorledenes oor te dra.

“Ons som eers ’n situasie en omgewing op. Die boodskap moet op ’n subtiele manier oorgedra word. Jy kan egter ook nie onsensitief wees nie. Ons gebruik voorgeskrewe invalshoeke. Ons kapelane leer ook nog elke dag,” sê hy.

Kapelane werk met almal en die verskille in geloofsoortuigings is nie vir hulle ’n hindernis nie. “Ons kyk nie na geloof nie. Ons gaan nie om ons geloof te verkondig nie. Dis om ’n vervullende diens te lewer,” sê hy.

Hy sê omdat kapelane dikwels aan grutonele blootgestel word, probeer lede ’n noue ondersteuningsband vorm. “Sommige tonele bly by jou.”

Een spesifieke toneel wat Murray onthou is dié van ’n busongeluk in Kaapstad kort nadat hy by die kapelaansdiens aangesluit het. Hy sê baie mense het op die toneel rondgestaan en van die passasiers was onder die bus vasgekeer. Twee passasiers is dood en talle beseer.

In dié bedryf moet vrywilligers 24/7 beskikbaar wees. Murray sê hy is altyd daarop voorberei. Hy hou ’n kapelaans­-oorjas in sy motor se bagasiebak vir onvoorsiene tye. Hy is onlangs as predikant by die Calvyn Protestante kerk aangestel en sy gemeente ondersteun sy werk as kapelaan.

Hy sê jy moet die hart hê daarvoor. “Wat ek geleer het in my tydperk as kapelaan, is die belangrikheid van menswees. Ons is daar om mekaar te ondersteun. ’n Mens besef nie altyd watter uitwerking trauma op mense kan hê nie.”

Kapelane is deel van ’n onbesonge groep helde. “Soos die Woord sê: ‘Die arbeidsveld is groot, maar die arbeiders is min.’ Die publiek moet ons in hul gebede hou, veral in besige seisoene,” sê Murray.

Hy eer Gregory West wat vir lank ook in Worcester as kapelaan gedien het. Die twee het ná die ontplogging van die gasvragmotor nou saamgewerk.. Mense wat nog inligting verlang, kan Murray by 083 951 6407 skakel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.