Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Karoo King wil talle inspireer met nuwe album


Die bekende rymkletser en musikant, Karoo King, se nuutste album is hier en wil nou ander inspireer om ook hul drome na te volg en hul uitdagings te oorkom.

Karoo King, gebore Michael J.D. Roodtman, het sy grootwordjare in Ladismith in die Karoo deurgebring waarna hy sy skoolloopbaan aan Worcester Sekondêr voltooi het. Hy het ook na skool ’n kwalifikasie by Boland Kollege behaal, waarna hy in 2003 Engeland toe getrek het.

“Op skool het ek nog altyd ’n passie vir kunste gehad, veral vir musiek. Ek het in Worcester kennis gemaak met mense soos Charlton Davids (Breimasjien) en Hemelbesem. Dit is ook ’n voorreg dat albei hierdie invloede op my lewe en my musiek nou op my nuutste album saam met my verskyn,” vertel hy aan Standard.

Karoo King het in 2007 teruggekeer van oorsee nadat hy by verskeie opnameateljees gewerk het in Europa en selfs in Dubai. Hy woon deesdae weer in Ladismith en sien om na sy bejaarde pa terwyl hy musiek skryf en aan sy musiekloopbaan werk.

Hy het onlangs ook sy debuutalbum, Deary 4, vrygestel en is baie trots op hierdie besondere projek.

My ouers was nie welaf nie, maar liefde en musiek was daar oorgenoeg van.

“My pa het altyd gesê dat ek my eerste lied al geskryf het toe ek maar net drie was. Musiek en die skryf daarvan was nog altyd in my are. Dit is wie ek is. Ek is gebore in ’n gelowige en veral musikale huis. My ouers was nie welaf nie, maar liefde en musiek was daar oorgenoeg van. Ek het in die kerk grootgeword, veral na my pa sy werk as arbeider verruil het vir dié as pastoor. Ek het daar leer dromme speel en my liefde en passie vir musiek uitgeleef.”

Baie musiekliefhebbers sal vir Karoo King (ook voorheen bekend as Mo’reno) onthou as die energieke rymkletser met sy unieke kwinkslae wat in 2015 die SABC 2 se Showville-talentkompetisie met sy oorspronklike liedjie, Pittekop, gewen het. Sy vlymskerp sin vir humor, sy natuurlike aanvoeling vir musiek en sy vermoë om stories te vertel en in te kleur is merkwaardig en word in die musiekindustrie raakgesien deur musikante soos Early B en Yoma.

Deary 4 (Deur die vuur) is ’n ode aan oorwinning nadat ’n persoonlike tragedie hom sowat twee jaar gelede getref het.

Op 17 Mei 2018 het ’n verwoestende brand sy klanktoerusting en die meeste van sy professionele besittings geëis toe sy opnameateljee afgebrand het. Dit het hom in ’n donker gat gedompel en een waarin hy nooit gedink het hy sou uitklim nie.

Hy vertel in op ’n liriese wyse in sy album ook hoe hy weens dié brand in ‘n diep put van depressie verval het en daagliks met die Here geworstel het oor hoekom hierdie deel van sy menswees so skielik van hom af weggevat is toe hy besig was om na die piek van sy musiekloopbaan te reis.

“Dit het so erg geraak dat ek op ’n kol ophou liedjies skryf het. Ek het begin om ’n ander werk weg van musiek af te soek net om te oorleef. Danksy die Here en sy genade het ek my vriend en musiekvervaardiger, Breimasjien, raakgeloop wat my weer oortuig het om my pen op te tel en aan te hou baklei. As ek terugkyk kan ek met sekerheid getuig dat dit my geloof versterk het.”

Deary 4 het 10 oorspronklike treffers uit sy pen en vertel die storie van die reis na sukses, grondpaaie, kronkelpaaie, slaggate en hoe om uit die as op te staan. Met liedjies soos 17May2018, Deary 4 en Yttie Modderslyk word die kontras van die lig en donker van die lewe vertel soos dit is. Daar is goed en daar is sleg, en soms word jy vasgevang tussen die twee.

Nie net skryf hy oor tragedie en verlies nie, maar beeld ook sy liefde en respek uit aan diegene wat hom regop gehou het deur dit.

Pragstuk - Karoo King

“Om Te Dink Jy Sien Kans Vi My

Om Te Dink Jy Wil N Lewe Saam Met My Bou

Om Te Dink Jyt Bly Staan By My

Na Ek Amper Als Verloor Het

Innie Vuur In

Na My Lewe Ontspoor Het

Jys Kosbaar

Vir My

En Ek Waardeer Jou,

Queen

Ek Eer Jou"

Die album is sowat ’n halfuur lank en elke lied laat jou wens dis net nog ’n minuut langer.

Karoo King is ook die pa van vier dogtertjies en verwys ook na sy liefde vir hulle in sy skryfwerk. Hy sien uit na wat die toekoms inhou en hoop om nog talle van sy eie musiek uit te bring en saam ander kunstenaars te werk om relevante boodskappe deur musiek te kan verkondig.

Volg vir Karoo King op sosiale media en gaan luister na sy nuwe album, Deary 4, aanlyn op alle stroomdienste soos Apple Music en Spotify.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.