Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ketting na 20 jaar weer opgespoor

’n Onvervangbare kultuurhistoriese skat van die Breedevallei is ná ’n 20 jaar lange soektog uiteindelik teruggevind.

De Doorns-, Rawsonville-, Worcester- en Touwsrivier-munisipaliteit het in Desember 2000 saamgesmelt om die Breedevallei-munisipaliteit te vorm en iewers in die samesmeltingsproses het die ou Touwsrivier-munisipaliteit se burgemeesters- en burgemeestervroukettings weggeraak – maar gelukkig is dit nou ná 20 jaar weer agter in ’n kluis opgespoor.

Die duidelik oorstelpte burgemeester van Breedevallei, Antoinette Steyn, was – as boorling van Touwsrivier – die aangewese persoon om verlede Woensdag (4 November) op ’n spesiale geleentheid die ou ketting van Niel Lötter in ontvangs te neem. Lötter was die laaste burgemeester van die ou Touwsrivier-munisipaliteit.

Die burgemeestersketting is op 7 Desember 1962 deur ’n plaaslike sakeman, D. Singer, aan die Touwsrivier-munisipaliteit geskenk nadat Touwsrivier in 1962 ’n munisipaliteit geword het.

Die burgemeestersvrou- en onderburgemeesterskettings is weer deur die bekende Masson-familie van Touwsrivier geskenk, wat jare lank die eienaars van die bekende Masson & Kitson Algemene Handelaars in Touwsrivier was. Ongelukkig is die onderburge­meestersketting nog soek.

Die burmeestersketting bevat nog die ou Touwsrivier-munisipaliteit se wapenskild. Dit is bekend dat hierdie wapenskild destyds deur prof. G.E. Pearse ontwerp is – ’n bekende heraldikus wat ver­skeie dorpe se wapenskilde ontwerp het.

Aangesien die woord Touws van die Khoi-San-woord Daos afgelei is – dit beteken straat, pad of deurgang – is die ontwerp van die wapenskild gegrond op die betekenis van die woord. Die leuse of wapenspreuk onderaan lui Floreat Flumen Touense wat vertaal word na: “Mag Touwsrivier bloei”.

Die volgende name en datums verskyn op die ou burgemeestersketting (Touwsrivier se plaaslike geskiedenis-ekspert, Willie Marais, en die laaste burgemeester van Touwsrivier-munisipaliteit, Niel Lötter, het meer inligting oor die verskillende mense verskaf):Almero Loots: Januarie 1961 – Augustus 1966 en September 1968 – Augustus 1970

Hy was die eienaar van Komkyk Motors en het in President Swartstraat gebly in die huis wat vandag soos ’n kasteel lyk. MK (Koos) Hoffman: September 1966 – Februarie 1968

Hy het op die plaas Dankbaar gebly. Hy was die eienaar van die Caltex-garage wat destyds reg oorkant die ou Douglas-hotel geleë was. Sy bynaam was dokter omdat hy een of ander soort medisyne as teenmiddel vir kanker ontwikkel het.CH (Hennie) Volschenk: Maart 1968 – Augustus 1968 en September 1970 – September 1974 en November 1975 – Oktober 1977

Hy was ’n kondukteur en het in Janestraat in die mooi huis oorkant die pastorie gebly en in ’n mooi wit Valiant gery. Hy was later die opsigter van die Spoorweg-barakke.LJ de Jager: September 1974 – 1975

Interessant genoeg was Oom De Jager gesiggestremd en was hy een van Suid-Afrika se eerste – indien nie die heel eerste nie – blinde burgemeester in Suid-Afrika se geskiedenis. JGL Slabbert: September 1975 – Oktober 1975

Hy was die plaaslike apteker en eienaar van Touwsrivier Apteek in Loganstraat.JH (Johan) Stassen: September 1977 – Augustus 1978

Hy was die skoolhoof van Laerskool Touwsrivier en sy dogter is die bekende sangeres, Lieze Stassen.WA (Willie) Volschenk: September 1978 –

Oom Willie was die groot kampvegter vir die regte van Touwsrivier se agtergeblewenes en die uitleg van Steenvliet is grootliks aan sy toedoen te danke.

. Ongelukkig is die ketting in September 1978 laas gegrafeer en kom die name van daaropvolgende oudburgemeesters, soos Hennie Laing, Bertus Neethling, Dries le Roux, Susan Liebenberg, Meneer Hofmeester en Niel Lötter nie op die ketting voor nie.

Hennie Laing was ’n passer en draaier by die ou Loco en het in Voortrekkerweg, langs USave en MBD-begrafnisdienste, gebly. Bertus Neethling was die eerste Bloutrein-masjinis. Dries le Roux het ’n meubelwinkel reg oorkant Uys & Maree gehad en het in Du Plessisstraat gebly.

Susan Liebenberg was die dogter van Touwsrivier se eerste burgemeester, Almero Loots, en sy het later Komkyk Motors oorgeneem. Meneer Hofmeester was ’n onderwyser by De Kruine Sekondêre Skool en hy was Touwsrivier se eerste gekleurde burgemeester en die laaste burgemeester. Niel Lötter was die eienaar van die Touwsrivier Spar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.