Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kinders kan dan ‘nie ophou dans’

Maandag 29 April was Internasionale Dansdag, ’n gebeurtenis wat elke jaar vir die herdenking van die geboorte van Jean-Georges Noverre (1727-1810), die skepper van moderne ballet, plaasvind.

Internasionale Dansdag is ook ’n wêreldwye viering van dans, begin deur die danskomitee van die Internasionale Teaterinstituut (ITI) en die hoofvennoot van die uitvoerende kunste van Unesco.

Die doel van die dag is om die deelname en opvoeding van dans aan te moedig deur geleenthede en feeste wat dié dag reg oor die wêreld gehou word.

Standard het met die stigterslede van Lesley’s Dance Academy gepraat oor die belangrikheid en doel van dans – veral in gemeenskappe wat elke dag talle uitdagings ervaar.

Lesley Nango, wat 42 jaar gedans het, sê hy en Mercia Bergh het Lesley’s Dance Academy, ’n organisasie sonder winsbejag, in 1996 begin. “Ek het betrokke geraak as gevolg van my kind wat in daardie stadium baie hiperaktief was en Lesley het begin dans. Toe hy afstig en op sy eie begin, het ek my kar gevat en Roodewal ingery, oral waar kinders gebly het wat voorheen gedans het, en hulle weer betrek,” sê Berg, wat ook die organiseerder van die dansakademie is.

Lesley, wat ook die hoofafrigter is, sê hy geniet elke oomblik. “Elke skool het sy goeie en swak seisoene. Ons dansseisoene waar ons goed doen, oorskadu ons afseisoene, maar dis altyd lekker,” sê hy.

Lesley sê She-Attle Nango en Jean Pierre help hom met die afrigting en hulle maak ook gebruik van Melvin Weiner van Bonteheuwel wat af en toe kom help.

Mercia sê een van die uitdagings wat hulle by die dansakademie ervaar is die feit dat daar baie meisies is, en hulle het die dansmaats nie. “Ons dansers kom so aan en af, want vervoer is maar ’n probleem, maar ons kan sien die dansers geniet dit,” sê sy.

“Dans is ’n baie mooi sport. Jy leer jou postuur regkry, dis goeie oefening en jy leer goeie dissipline en respek,” sê Mercia. Lesley sê hy kan sien hoe dans die kinders se maniere later ook op ’n goeie wyse beïnvloed.

Volgens Lesley fokus hul dansakademie op baldans en Latynse dansstyle. “Ons het op die oomblik sowat 40 dansers van so jonk as vier jaar oud tot so oud soos 60 plus. Dans is al jare gewild in die gemeenskap en dans het vir my baie in my grootwordjare beteken,” sê Lesley, wat ook al baiekeer aan die SA kampioenskap deelgeneem het.

Mercia sê van hul dansers neem 18 Mei aan die Wes-Kaapse Winterfees deel, wat by die Portia Primêr Ouditorium in Lansdowne in die Kaap plaasvind.

“As die kinders eers een keer aan ’n kompetisie deelgeneem het, wil hulle nie wegbly nie,” sê Mercia.

Enigiemand wat kan help om ’n bydrae vir die Lesley Dance Academy te lewer, kan Mercia Bergh by 074 635 6687 of 076 974 2034 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.