Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kinders met disleksie leer lees deur kleur

Marlise Roberts, ’n mamma van Worcester met ’n kind by wie disleksie gediagnoseer is, se boekies om kinders met disleksie te help, werp goed vrugte af.

Marlise het twee jaar gelede ’n leesstelsel, Lees Deur Kleur, ontwerp en vandag bestaan die reeks uit meer as 10 boekies.

“Ons eerste boekies het in Maart 2018 verskyn. Tans het ons 12 en teen die middel van November sal ons 17 boekies in die reeks hê,” sê Johan Stuit, skakelbeampte van Lees Deur Kleur.

Johan Stuit (agter links) en Marlise Roberts (langs Johan, in wit) by van die onderwysers uit die Worcester-omgewing.

Marlise, die brein agter die leesstelsel, en Johan, wat haar met die navorsing help, het onlangs ’n paar remediërende onderwysers van Worcester na hul leessentrum in Worcester genooi om die stelsel aan hulle bekend te stel.

“Die doel van die dag is om te kyk hoe ons die skole in Worcester met Lees Deur Kleur kan betrek en help,” sê Johan.

Marlise, wat geen onderwysopleiding het nie en ook die skrywer van die Lees Deur Kleur-reeks is, sê sy het met die idee vorendag gekom nadat die sielkundiges en spesialiste gesê het haar dogter is disleksies.

Sy sê sy het net gevoel sy moes iets doen om haar dogter te help en dis hoe Lees Deur Kleur ontstaan het. Vandag help sy kinders reg oor Suid-Afrika met hierdie stelsel.

Lees deur Kleur help kinders om op ’n vroeër ouderdom kleur en klanke te herken. Dit verbeter hul spel- en skryfvermoë en leer hulle eenvormigheid en struktuur, wat tot vlot en vloeiend lees lei. Dit vergemaklik ook woordbou en verbeter die kind se begrip van woorde. Sy gebruik rooi, blou en groen in haar leesboekies om die kinders te help.

“Elke kleur is noukeurig gekies vir die spesifieke uitwerking wat dit op die kind se oë en brein het. Gewoonlik gebruik ons die linkerkant van die brein om te lees. Die Lees Deur Kleur-leesstelsel span ook die regterkant in en dit maak ’n vinniger en groter impak wanneer dit by lees kom,” sê Johan.

Marlise sê sy het net drie dae nodig met ’n kind wat sukkel om te lees en die verskil is ongelooflik.

“Die jongste kind wat ek tans help, is vier jaar oud. Dit neem drie dae om al daardie klanke te leer. Dit verg drie dae en tien lesse totdat hulle die eerste boekie kan lees,” sê sy. “Ek wil graag ander kinders wat ook leesprobleme ondervind, help. Ek wil nie net ’n verskil in ’n kind se lewe maak nie, maar ook in die gemeenskap se lewe.”

Johan sê dis hoekom hulle besluit het om met skole in Worcester te werk sodat hulle deur hierdie stelsel kinders met hul leesvermoë kan help.

Lees Deur Kleur het voorverlede Donderdag ’n pak van hul reeks boekies aan al die onderwysers teenwoordig geskenk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.