Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kinderselfdood kwelpunt in Vallei

BREEDEVALLEI – Selfdood is ’n geestestoestand wat jaarliks die lewe van sowat 12 mense per 100 000 in Suid-Afrika eis – en dit was ook die geval met vier kinders die afgelope tyd hiér.

Sowat 8% van mense wat weens selfdood sterf, is jongmense, en dié syfer styg jaarliks. Standard het reeds oor vier sulke gevalle hier in die Vallei berig – ’n tienermeisie (13) van De Doorns, ’n seun (10) van Wolseley, ’n seun (18) van Worcester en die nuutste geval ’n seun (13) van Worcester.

Standard het met dr. Riana Hall, ’n plaaslike opvoedkundige sielkundige van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, gesels om meer lig op die onderwerp te werp:

“Dit is belangrik dat ouers in die gesinsopset – veral in hierdie tyd – op die uitkyk moet wees vir tekens wat hul kinders dalk vir hulle gee,” meen Hall.

“[Let op na] uitlatings soos: ‘Ek weens ek was dood’ of ‘My gesin sal beter daaraan toe wees sonder my’ of ‘Julle hoef nie meer oor my bekommerd te wees nie’ – alles is voorbeelde van kinders wat dalk met hul geestesgesondheid sukkel.”

Die Wolseley-polisie het onlangs die selfdood van ’n 10-jarige seun in die omgewing bevestig.

“Volgens inligting het die seun vroeër die dag saam met ’n vriend gespeel en later na sy huis teruggekeer om te gaan eet, maar is toe weer saam met die vriend weg. Die gesin het bekommerd geraak toe hy teen 20:00 nog nie huis toe gekom het nie en na hom begin soek,” sê sers. Meryll Africa.

Die 10-jarige is later in die stoorkamer agter hul huis met ’n serp om sy nek gevind. Die gesin het hom probeer bybring, maar kon dit nie regkry nie en hy is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar.

“Hoewel die meeste depressiewe mense nie weens selfdood sterf nie, speel depressie wel ’n groot rol by selfdood. Onttrekking aan aktiwiteite wat eers aangenaam was, kan ’n teken van ernstige depressie wees,” sê Hall.

Sy meen dit is belangrik om na hierdie bykomende faktore op te let.

Indien dit elke dag of twee weke aanmekaar openbaar word, is daar ’n verhoogde risiko van selfdood.

Die faktore is:. depressiewe buie;. verandering in slaappatrone;. verandering in eetlus of gewig;. praat of beweeg met ongewone traagheid;.moegheid of verlies aan energie;. gevoelens van waardeloosheid, selfverwyt of skuldgevoelens;. voortdurende gedagtes, gesprekke, sketse of verhale oor die dood of selfdood;. verwaarloosde persoonlike versorging en voorkoms;. deel waardevolle besittings uit;. uiterste angs, rusteloosheid of woedende gedrag;. roekelose of waaghalsige gedrag;. aggressiewe en vyandige gedrag;. oormatige medisyne- of alkoholmisbruik;. onttrekking van vriende en familie;. gevoelens van hopeloosheid of desperaatheid.

Volgens inligting wat deur Hall aan Standard deurgegee is, gee 75% van alle mense wat weens selfdood sterf die een of ander waarskuwing of dreigement voordat hulle dit uitvoer.

“Kinders word kwesbaar vir selfdood of selfdoodgedagtes wanneer hulle buitengewone trauma ervaar, geboelie word, mishandel word of selfs te veel tyd op sosiale media deurbring en gedurig praat van hoe wonderlik ander se lewe in vergelyking met hul eie is.”

Dit is belangrik dat ouers ’n oop kommunikasieverhouding met hul kinders het en na hulle luister as hulle mismoedig is. As dit nie help nie of enige gevaartekens meer as gereeld ervaar word, moet professionele hulp verkry word.

“Die Wes-Kaapse onderwysdepartement het ook ’n trauma-protokol by skole met riglyne wat onderwysers kan volg om seker te maak sulke tragiese gebeure in ons gemeenskappe verminder.”

As iets gebeur, neem die kind na die ongevalle-afdeling of ’n instapkliniek en moenie die kind alleen laat voordat hulp beskikbaar is nie. . Skakel die ADHD-hulplyn by 080 055 4433 of Sadag-hulplyn by 080 056 7567 vir nog inligting of hulp.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.