Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kleinplasie, groot gemors?

Dis ’n skande!

Verskeie inwoners, gereelde toeskouers en selfs bestuurslede van die Mega Oval-baan by Kleinplasie in Worcester is ontsteld en bekommerd oor die toestand van die terrein en beskuldig die eienaar van wan­bestuur en onvoldoende aanpassings, verbouings en standaarde.

“Die badkamers is vuil en ontoe­ganklik. Die terrein is onveilig en val uitmekaar uit. Alles gaan net agteruit.” Dít is van die kommentaar wat gereelde toeskouers aan die bestuur van die Stockars-resies deurgegee het.

“Ons reël die wedrenne en hou omtrent elke maand van die jaar ’n groot byeenkoms. Ons het ’n huurkontrak met Kleinplasie vir die gebruik van die bane en betaal ’n reusefooi om die plek te kan gebruik, maar die toestand van geriewe is om van naar te word en kos ons as bestuur ’n vrag geld om gereelde opknappings te doen,” sê een van die Mega Oval-bestuurslede, Pieter Human.

Standard verneem van daaglikse inbrake en vandalisme wat op en by die perseel plaasvind.

“Ons gaan gebuk onder misdaad. Ons het in ’n stadium tot drie inbrake per dag gehad en ons wagte is bang. Drade, heinings, hekke en allerlei skroot­mate­riaal word gesteel om weer naby Kleinplasie in die nywerheids­gebied verkoop te word. Ons weet dit is ’n probleem. Ons sal nie opgee nie en werk elke dag daaraan,” sê Kleinplasie se Orton King.

King vertel dat Kleinplasie as ’n tender aan hom toevertrou is as ’n niewinsgewende ontwikkelingsprogram, maar talle ander partye voel dat hy nie sy kontrak met die munisipaliteit nakom nie.

“Ons het gesê ons fokus op ontwik­keling. Nie noodwendig geboue of struk­ture nie, maar mense en sake-eenhede wat ontwikkel moet word. Dis waarop ons fokus,” sê King.

Danie Bester, inwoner en stockcars-liefhebber, vertel aan Standard dat mense onveilig voel by die plek waar die resies gehou word en dat dit baie vuil is. Hy vertel verder dat baie verkies om eerder die natuur as toilet te gebruik eerder as om van die vuil badkamers gebruik te maak.

“Dit is juis hierdie soort kommentaar van die publiek wat ons hartseer maak. Ons gee ons alles en stoot met elke resies ’n klomp geld in. Ons verbeter nou self die badkamers. Ons bestuur self die kroeg nadat alle yskaste gesteel is. Ons moet die binnebaan se draadheining vervang nadat dit gesteel is – alles wat nie eintlik ons verantwoorde­likheid is nie,” sê Human.

King is van mening dat die Mega Oval-bestuur nie ’n permanente kontrak of ooreenkoms met hom het nie en dat hy op dieselfde beginsel werk as enige ander persoon wat geriewe by hom wil huur.

“Elke geleentheid het dan sy eie kontrak. Dit is duidelik in daardie kontrak dat dit eenmalig is en dat ons by Kleinplasie net die basiese dop en strukture verskaf, maar dat alles anders die gebruiker/huurder se verantwoor­delikheid is, byvoorbeeld veiligheid,” sê hy.

Nog ’n inwoner en gereelde besoeker aan Kleinplasie se Mega Oval vertel sy vrees om haar kinders na die resies saam te neem.

“Hulle kan nie alleen koeldrank gaan koop of badkamer toe gaan nie, want jy vrees vir hul veiligheid en jy vrees in watter toestand die geriewe is,” vertel sy.

Human vertel dat hulle nie net self die kragkabels moes vervang nie, maar ook die gesteelde yskaste en drade en omheinings wat deel vorm van die grond en geriewe wat hulle huur.

“Ons wil die sportsoort ontwikkel, maar waarheen is Kleinplasie op pad?” vra Human.

King voer verder aan dat hoewel veiligheid ’n probleem is en diefstal hulle erg kniehalter, hulle nog geen voorvalle ervaar het van diefstal in die omgewing waar mense saamdrom of by ander dele wat tans in gebruik is nie. “Ons het by ons chalets ’n kamerastelsel en verder beskik ons oor goeie beheer. Ons het al telkemale met die polisie gepraat en kon daarin slaag om meer sigbaarheid by Kleinplasie te skep. Inbrekers sal met messe en vuurwapens inbreek om vinnig ’n hek te steel en as daar beurtkrag is, dan teiken hulle ons éérs,” sê hy.

Human sê egter dat ’n vrou een aand by die losie langs die baan van haar besittings beroof is en dat dit hulle as bestuur diep grief.

“Ons wil elke maand ’n gehalteresies in ’n veilige en skoon plek aanbied, maar ons moet uit ons eie sak duisende rande uitgee om dit toeganklik te maak. Die brandweer het ’n paar weke gelede ’n waarskuwing aan King gerig dat ’n moontlike brandgevaar dreig en moes spoedig opgelos word.”

King vertel verder dat hy besig is met ontwikkeling in verskeie sake-eenhede en al grief die misdaad hom, probeer hy om optimisties en doelgerig na dié niewinsgewende instansie om te sien.

. Standard het kommentaar van die BVM gevra, maar teen druktyd was daar nog geen terugvoering beskikbaar nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.