Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Klubs beskuldig van wedstrydknoeiery

Rugbyklubs van die Boland word betrek by ’n ondersoek na beweerde knoeiery in ’n wedstryd wat die verlede naweek gespeel is.

Die wedstryd was een van twee wat sou bepaal waar sekere klubs in die liga eindig. Die Boland-rugbyunie het die vier spanne wat in dié wedstryde gespeel het in ’n brief aangesê om ’n dringende vergadering oor die bewerings by te woon.

Luidens die brief het die Bella Vista-rugbyklub ’n klagte by die Boland-rugbyunie ingedien oor Saterdag 31 Augustus se ligawedstryd tussen Hamlet en Roses United. Hamlet, Roses, Bella Vista en ook Bella Vista se opponent, Saron, word nou by die ondersoek betrek.

Roses United en Bella Vista het albei gespeel om te kon deurdring na die top-12-ligaronde.

’n Onberispelike bron het aan Standard gesê dat bewerings ondersoek word dat Hamlet se spelers in die laaste paar minute van hul ligawedstryd geen verdediging gebied het nie sodat Roses se spelers in daardie paar minute drieë kon aanteken.

Dit was skynbaar sodat Roses die nodige punte kon aanteken om Bella Vista op grond van punteverskil uit die liga te knikker.

Bella Vista en Roses het ewe veel ligapunte gehad en die span met die grootste punteverskil sou deurdring na die top-12. Na wat verneem word, het dit naby die einde van Hamlet en Roses se wedstryd geblyk dat Bella Vista sou deurgaan.

“Die gevoel is dat Hamlet se spelers opdrag gekry het om nie teen Roses te verdedig nie. Ná hul wedstryd en dié spesifieke gebeure was Roses se punteverskil beter as dié van Bella Vista – wat teen Saron gespeel het. Dit kan nie so werk nie – dit is wedstrydknoeiery,” het die bron bevestig.

In die unie se brief word verder bevestig dat vier klubs met hul afrigters en voorsitters verplig word om ’n vergadering in Wellington by te woon. Die vergadering was beplan vir Woensdagaand 4 September. Die uitslag van hierdie vergadering sal in latere beriggewing bygewerk word.

Stemmert Fortuin, voorsitter van die Saron-rugbyklub, wou nie kommentaar lewer oor die bewerings nie. “Ons weet nie eens waaroor die klagtes handel nie. Al wat ek weet, is dat ons verloor het en dit is dit. Verder is ek in geen posisie om kommentaar te lewer nie,” het hy gesê.

Die voorsitter van Roses United, Denzil Domoney, het aan Standard gesê hulle is vreeslik geskok oor die brief en weet nie waaroor dit gaan nie.

“Ons het ’n uitstekende seisoen tot dusver en al die ander klubs weet dat ons nie sommer geklop kan word nie en nou, uit die duister, kom hierdie brief,” sê hy.

Die Hamlet-rugbyklub is vir kommentaar genader, maar teen druktyd was die oproepe steeds onbeantwoord.

Standard het ook betroubaar verneem dat ’n wedstrydbeampte wat by Roses en Hamlet se wedstryd teenwoordig was, nie kon glo wat op die veld gebeur nie.

Bella Vista, wat die klagte volgens die Boland-rugbyunie se brief ingedien het, se voorsitter, Chantel Pietersen, het Standard se oproep beantwoord, maar wou nie kommentaar lewer nie. Die klub het wel ’n plasing op Facebook gemaak en gevra dat mense op die blad hulself moet weerhou van kommentaar en nie enige vals inligting moet versprei totdat die saak afgehandel is nie.

Kobus Vergotine, bestuurder van klubrugby vir die Boland-rugbyunie, het aan Standard gesê dat hy in geen posisie is om kommentaar te lewer nie, maar dat die president terugvoering sal gee na afloop van die vergadering.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.