Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Koos Sas se skedel terug by die Khoisan

MONTAGU – `n Heuglike en historiese gebeurtenis in die geskiedenis van die Khoisan-gemeenskap het onlangs hier plaasgevind.

Die skedel van die Khoisan-afstammeling, Koos Sas, is op Dinsdag 9 Maart deur die provinsiale minister van kultuursake en sport, Anroux Marais, simbolies aan die Hessequa-Khoisan-stamhoof, ds. Reggie Boesak, oorhandig - bykans 100 jaar na Sas se dood.

koos sas skedel
Stamhoof Reggie Boesak.

Dié historiese oorhandigingsplegtigheid het plaasgevind in die Montagu-museum, waar Sas se kopbeen vir ongeveer 20 jaar in’n glaskas soos ’n jagterstrofee uitgestal is.

Koos Sas was glo ’n berugte skaapdief wat later, so word vertel, ’n seun van ’n predikant doodgemaak het. Hy is keer op keer gevange geneem, maar het na bewering telkens daarin geslaag om te ontsnap.

Sas was nooit in ’n hof aan enige misdryf skuldig bevind nie, tog is hy deur die destydse owerhede “voëlvry” verklaar. Daarna is hy soos ’n wilde dier gejag en uiteindelik op 8 Februarie 1922 naby Springbok doodgeskiet. Sy liggaam is deur wilde diere en aasvoëls verslind. Hy is onthoof en later is sy skedel in ’n glaskas in die Montagu-museum uitgestal.

Sy skedel het eers “rondgereis”, van “eienaars” verwissel, voordat ’n professor, ene Hercules Brink van die Universiteit Stellenbosch, dit later aan die museum geskenk het.

Tydens sy verwelkomingstoespraak het die adjunk-direkteur van die museum, Michael Janse van Rensburg, gesê mense kan dalk die indruk kry dat hierdie geleentheid gebruik word om net weer in die verlede te grawe, maar dit is nie die geval nie.

“Ons is vandag hier, nie net om die verlede in ag te neem nie, maar ook om te beweeg na die toekoms. ’n Mens kan sê ons erfenis en museums gaan nie eintlik oor die verlede nie, maar eerder oor die toekoms.”

Hy het voorts gesê: “Die department van kultuursake en sport het ’n visie om ’n sosiale, inklusiewe, kreatiewe, aktiewe en ’n gekonnekteerde Wes-Kaap te stig. Sosiale insluiting inkorporeer waardes soos kultuurwarmte, sosiale kohesie, aanvaarding en samesyn. Dis nie genoeg vir ons as Suid-Afrikaners om mekaar net te verdra nie. Sosiale insluiting gaan wyer as net verdraagsaamheid. Sosiale insluiting beweeg na aanvaarding en omhelsing van ons unieke verskille en skenk waardigheid en respek aan elkeen van ons. Sosiale inklusiwiteit sê jou kultuur, my kultuur, ons erfenis.”

’n Gees van tegemoetkomendheid en medemenslikheid was te bespeur tydens die onderskeie sprekers se spreekbeurte.

Emile Badenhorst, die huidige kurator van die museum, het in sy spreukbeurt ’n kort oorsig rondom die omstandighede van Koos Sas se dood gegee. Hy het ook genoem dat die skedelbeen van Sas vir 46 jaar onder voogdyskap van die eerste kurator van die museum was.

Die skedelbeen was deur die destydse stadsklerk van Montagu daar aangebring, 60 jaar na sy dood. Badenhorst was van mening dat Sas se skedelbeen nie toevallig in die museum beland het nie.

“In hierdie selfde museum het Koos Sas se status ontwikkel. Dit het getransformeer van ’n blote herinnering van Koos Sas tot ’n nalatenskap van Koos Sas,” meen hy.

Hy vind ook die lang tydsverloop gepas. “Daar is ’n baie goeie rede hoekom dit bykans 100 jaar geneem het, tot vandag. Dit was belangrik dat die tyd moes verloop, sodat nie Koos Sas nie, maar dat ons, wat vandag hier sit, genoeg kon groei om te besef dat dit eintlik maar nog altyd oor soveel meer as net Koos Sas gegaan het. Ons het tyd nodig gehad om die hartseer, die pyn, die woede en die onreg te verwerk, hier binne-in elkeen van ons,” glo Badenhorst.

Die bekende sanger, David Kramer, het voordat hy die lied, “Ballade van Koos Sas” gesing het, vertel hoe Sas se verhaal hom aangetrek het. Hy het in 1981 die Montagu-museum tydens ’n fondsinsamelingsprojek besoek.

koos sas skedel
Sanger David Kramer.

“Dit was 40 jaar terug toe ek hier ingestap het,” vertel hy, “ Ek stap hier in en ek sien hierdie uitstalling. Die kopbeen van Koos Sas in ’n glaskas saam met die geweer waarmee hulle hom geskiet het, die Martini Henry met die loop. En ek het die stukkie daar gelees, die storie van die man wat hulle ’n moordenaar genoem het. Dit het my geïnspireer om ’n liedjie daaroor te skryf. Die liedjie se naam is ‘Ballade van Koos Sas’.”

Volgens Kramer het Koos Sas jare lank by hom gespook; hy dink Koos was nie tevrede met sy lied, dit wat hy gesing het nie. Koos wou hê hy moet sy hele verhaal vertel, aldus Kramer.

Hy het toe ’n teaterstuk geskryf, vertel hy verder. “So, ek het toe ’n teaterstuk geskryf met dieselfde naam, Ballade van Koos Sas en dit is in 2001 opgevoer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). En ons het ’n Slurpie gewen vir die beste produksie. Ek is baie bly om te hoor, na 20 jaar wat nou weer verbygegaan het, kom ons uiteindelik by hierdie dag waar ons sy human remains aan die gemeenskap gaan oorhandig,” sluit hy af.

Sameul du Plessis, raadslid van die Langeberg en voorsitter van die raad van trustees van die museum, het gemeld van ’n kursus van die Wes-Kaapse departement van kultuursake wat hy in 2009 deurloop het. Deel van die kurrikulum het ingesluit: sosiale insluiting, sosiale kohesie, gemeenskapsgenesing en -bou.

“Van die aspekte wat behandel was, is storievertel, diversiteit, kohesie en transformasie. Om mense by mekaar te bring. Te praat oor die verlede, bring ons bymekaar om te genees en bou ’n beter toekoms.

“Koos Sas se geskiedenis is vir baie van ons emosioneel, vir baie van ons `n hartseerstorie. Maar dis ook vir ons almal hier vandag ’n wonderlike geleentheid om bymekaar te kom en mekaar se diversiteite te erken. En mekaar ook te erken vir wie ons is en vir wat ons is en ’n beter Suid-Afrika te bou. Dis die doel waarvoor ons hier is,” het Du Plessis gesê.

In ’n soms emosiebelaaide toespraak het Boesak hom sterk uitgelaat oor die verontregting van die Khoisan-gemeenskap.

“Vir meer as 300 jaar plus is ons Khoisan-volk verneder, verkul, vertrap, beledig, verkleineer, vermoor en beroof in ons geboorteland. Ons is geroof van ons kultuur, vervreem van ons taal, van ons lewenswyse en ons as Godgeskape wesens, selfs ons menswees is van ons ontneem. Deur die eeue heen is daar vir ons besluit wat ons mag en nie mag doen nie. Waar ons mag loop op Gods aarde, waar ons mag swem in God se water, waar ons mag woon, waar ons mag werk. Waar ons mag in en waar ons nie moet nie. Ons lewe is beheer en bestuur deur bordjies. Ons moes maar die bordjies gehoorsaam wees.”

Stamhoof Boesak het ook gewys op talle kwetsende en vernederende name wat aan die Khoisan-mense toegedig is, soos Hottentotte wat later Hotnot geword het. Hy het ook genoem dat die bewoording op die “none European”-bordjies het ast’ware aangedui het dat die Khoisan “’n groot ronde nul op hierdie aarde was,” want “none” beteken nul, niks.

Stamhoof Boesak het voorts gesê die Khoisan is ’n gebroke volk, flenters geskeur op die wreedste wyse denkbaar. Selfs net om ’n Christen te kon wees. moes die Khoisan hul oorspronklike name prysgee en dierename aanneem.

“Ons is deur die sendelinge hernoem en herdoop. Die gevolg is, ons kry toe die name van diere. Dit is nou as jy ’n Christen wou wees. Ons is toe Mr Leeu, Mr Olifant, Mr Renoster, Mr Seekoei en vandag nog is daar van ons wat voëls is.”

Stamhoof Boesak het hierna die fokus na Koos Sas verskuif, die rede van die dag se verrigtinge.

Soos hierdie skedel van wyle Koos Sas vandag getuig, was ons volk gejag, afgemaai en onthoof. Die vraag in my hart is steeds, waar in Gods naam is my voorvader se liggaam? Is dit in die see? Is dit opgevreet deur wilde diere en aasvoëls? Hoe kan ’n volk gelukkig en tevrede leef as hierdie vrae nog steeds in ons harte voortleef?
Stamhoof Reggie Boesak


En toe het hy hom na minister Marais gewend. “Agbare minister, ons is bewus dat Koos Sas nie ’n engel was nie. Hy was ’n dief en miskien sogenaamd, ’n moordenaar. Maar my vraag is, waar was diegene wat hom sonder verhoor “voëlvry” verklaar het, wat hom gejag het soos ’n wilde dier sonder dat daar ’n hofuitspraak was. My vraag is, was hulle miskien engele? Die enkele beswaar was en is die wyse waarop die Godgeskape mens se skedel uitgestal was vir die wêreld om te aanskou. Wat die skedel moes sê: dit is wat ons doen met Khoisans, bruinmense, coloured wat ons wette oortree.

“Nog ’n pynlike verontregting uit die Khoi-volk, bruinmense, kleurlinge getref in 1950, toe ons stemreg ons ontneem is. Dit het ons mense verder verdeel, verbrokkel, uitmekaar geskeur en ontspoor.

“En nou, agbare minister Anroux Marais, mag God u ryklik seën omdat u na die Hessequa Khoisan-mense gekom het om ons te help om ons pyn en ons smarte te heel. U het geluister na ons smekinge, u het geluister, mooi geluister en positief gereageer. En daarom vandag, namens alle Khoisan-volk, sê ek vandag hartlik en opreg dankie.”

Stamhoof Boesak het ook `n paar woorde aan president Cyril Ramaphosa gerig. “I’d like to use this opportunity to address our president, Cyril Ramaphosa. Your excellency, since the years you came into power, you always said to our nation that this country belongs to all who lives in it. But I felt that the Khoi and San were never included.

“Sir, since apartheid years, we still feel like strangers in this country. But today I like to thank you, out of the deepness of my Khoisan heart, for at last recognizing us as a nation that have the right to be here. This of course is only the beginning, but at least from now on the Khoisan legacy shall roll on and on until the day we arrive at the end in Khoisanland.

“Excellency, God bless you and may God, our Heavenly Father, give you the wisdom to do what is right and fair to all the people in our land.

Respectfully, yours, Reggie Boesak.”

Stamhoof Boesak het verder die Khoisan-mense verseker dat dit slegs die begin is om die wonde van die verlede te genees. Nadat hy verskeie persone en instansies bedank het, het hy afgesluit met: “Kom ons maak die hele dorp ’n gemeenskap wat saamwerk, ongeag kleur, klas, ras of taal.”

Minister Anroux Marais.

Tydens haar spreukbeurt het Marais dit duidelik gestel dat museums nie geskikte plekke is om menslike oorskot te berg nie en dit is vir haar ’n eer om Sas se oorskot simbolies te oorhandig aan die verteenwoordigers van die Khoisan-gemeenskap.

Volgens haar is die Wes-Kaapse department van kultuursake en sport besig met ’n program om menslike oorskot wat tans in museums gehou word aan die relevante rolspelers te oorhandig.

“By die department is ons toegewy aan ons visie van sosiale inklusiwiteit in die Wes-Kaap. In lyn met hierdie visie het ons in Junie 2018 in George ons herbegraweprogram geloods. Hierdie broodnodige projek behels ’n reeks van herbegrafnisse om menslike oorskot wat steeds in museums wat by die department geaffilieer is, gehou word, te oorhandig vir waardige en respekvolle teraardebestellings. En hierdie simboliese oorhandiging van menslike oorskot by die Montagu-museum het ten doel om ’n waardige herbegrafnis te verseker,” het sy gesê.

Minister Marais het voorts al die relevante rolspelers, soos die Langeberg-munisipaliteit, Montagu-museum, die Hessequa Tradisional House and Tribe, gelei deur stamhoof Boesak en almal wat deel gehad het aan die suksesvolle simboliese oorhandiging van Koos Sas se oorskot, bedank.

Die bedankings is behartig deur Guy Redman, hoofdirekteur van die department van kultuursake en sport.

koos sas skedel
Lede van die Khoisan-gemeenskap en ander belanghebbendes.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.