Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Koue mamma-kobra laat bouers lelik bontstaan

’n Dragtige en dodelik giftige slang wat haar in ’n PVC-pyp tuisgemaak het, het bouers by ’n nuwe ontwikkeling in Worcester verlede week behoorlik op hol gejaag.

Die plaaslike slangvanger André du Preez van Silverfox Snake Rescues het die Kaapse kobra Donderdag 16 Julie gaan red.

Dié slang van amper 2 meter het bouers by die nuwe Altona-ontwikkeling omtrent op hul tone gehad en geen keuse gelaat as om André te ontbied nie.

“Ek het daar aangekom en die werkers het omtrent bontgestaan. Hulle het masjiene gebruik wat vreeslik raas en skud. Die slang het uitgekom en die werkers verras. Haar liggaams­temperatuur was kommerwekkend laag en ek het haar eerder na my huis geneem en in ’n warm bad gesit om haar temperatuur hoër te kry. Sy is dragtig en dit was belangrik om haar temperatuur reg te kry. Sy het nie vreeslik daarvan gehou toe ek haar uit die bad haal nie,” skerts hy.

’n Paar uur ná hierdie vangs is nog ’n Kaapse kobra by Altona gevind. André sê hierdie slange is baie gevaarlik en moet nie sonder die spreekwoordelike handskoene aangepak word nie. Sy permitte vir die volgende tydperk is goedgekeur.

“Ek hou slange net aan as hulle seergekry het, siek is of sorg benodig. Dan laat ek hulle vry. Ek rehabiliteer en red hulle – dit is my werk.”

Hoewel party mense glo slange is nie in die winter aktief nie, sê André dit is ’n mite. “Slange is orals. Net omdat jy hulle nie sien nie, beteken dit nie hulle is nie daar nie. Hou jou erf skoon. Hulle kruip weg waar hitte of skadu is – onder plate en selfs in pype. Kyk waar jy jou hande en voete sit – hulle is orals.”

Hy verduidelik wat gedoen moet word as jy so ’n slang teëkom: “Die belangrikste is dat jy ’n tree terug gee om ’n veilige afstand te behou. As dit in die huis is, sorg dat jy uit die kamer kom, maak die deur toe en sit iets voor die deur sodat die slang nie kan uitkom nie. Bel dan dadelik ’n slangvanger en lig die res van die huishouding in. As dit buite is, hou jou troeteldiere weg, hou die slang se beweging van ’n veilige afstand af dop en bel ’n slangvanger,” waarsku hy.

“In die winter is die tipiese bruin huisslang prominent, asook die Karoo-sandslang. Nie alle slange hiberneer nie. Ek het in die afgelope tyd sowat 40 slange midde-in die inperking gevang. Die meeste was Kaapse kobras, boomslange en pofadders. Ons red ook nou uile en stinkmuishonde. Ons het onlangs ’n stinkmuishond uit die kajuit van ’n voertuig by ’n bekende motorhandelaar in die dorp gaan haal.”. André se nommer is 082 305 9209, of volg hom op sy Facebookblad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.