Moeder Teresa het gesê: “As jy nie honderd mense kan voed nie, voed dan net een.”
Die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) is ’n tuiste vir 92 bejaarde en meervoudig gestremde dowe inwoners. Hier voel hulle geliefd en word hulle met groot deernis en begrip vir hul spesiale behoeftes versorg. Vir die meeste is NID hierdie Kersfees ook hul enigste heenkome en familie.
Voedselsekerheid en -voorsiening vir hierdie inwoners is een van die NID se topprioriteite. “Ons poog om deurlopend voedsame en volhoubare maaltye te voorsien wat voldoen aan ons inwoners se voedingsbehoeftes vir ’n aktiewe en gesonde leefstyl,” sê Cobus van Deventer, die uitvoerende hoof van die NID.
“Om ’n vol maag te hê, versadig en tevrede te wees, is ’n kosbare seëning in vandag se moeilike en onseker tye. Namens hierdie inwoners vra ons u om ons asseblief te help om hierdie Kerstyd mae en harte vol te maak, en ons te help om voort te gaan om hoop te bring aan ons bejaarde en meervoudig gestremde dowes by NID Sorg. Vir slegs R52 kan u drie maaltye vir een bejaarde of meervoudig gestremde dowe inwoner vir een dag borg. Kan u help?”
Van Deventer sê dit is so spesiaal vir hulle “om vriende soos u” te hê.
“Mense soos u maak dit moontlik dat ons dowe inwoners hier by NID hul lewe ten spyte van hul gehoorverlies voluit te laat leef. U ondersteuning skep en onderhou hul NID-tuiste waar hulle veilig en geborge voel en waar hulle met waardigheid en vreugde kan leef. U omgee, ondersteuning en liefde maak hierdie Kersfees ’n verskil in die lewe van ons dowe en ander inwoners met gehoorverlies by die NID,” sê Van Deventer. “Ons wens u ’n geseënde Christusfees en ’n voorspoedige 2021 toe!”