Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Leerder verloor stryd teen kanker

Bykans 10 jaar lank het ’n 17-jarige van Worcester ’n aggressiewe stryd teen brein­kanker gevoer en volgens haar ma het sy haar verlossing aangevoel.

Shenay Visagie (17) se ma, Bronwyne, vertel dat haar dogter se vel in haar laaste oomblikke blink en sag was. Sy beskryf aan Standard hoe Shenay se neus soos ’n hartjie gelyk het. Haar dogter se trane het onophoudelik gevloei terwyl haar ma by haar gesit en dit afgevee het. Shenay se hart het al vinniger begin klop. Met die koms van skemer het sy haar stryd teen kanker verloor.

Sy was maar sewe jaar oud toe sy oor erge hoofpyne gekla en ook epileptiese aanvalle gekry het.

Haar ma, wat haar as enkelouer grootgemaak het, vertel dat sy haar hospitaal toe geneem het en die dokters het haar na Tygerberg-hospitaal verwys vir verdere toetse.

“Die toetse en breinskande­rings het later gewys dat sy ’n gewas op die brein het – ons was almal geskok,” vertel Bronwyne.

Shenay het dadelik met behandeling begin en op agtjarige ouderdom is die gewas verwyder. Sy het chemo en bestraling ontvang en op die ouderdom van 10 was sy in remissie.

“Dit het goed gegaan vir ’n paar jaar. Hoewel sy ’n akademiese agterstand gehad het, het sy presteer. In 2018 het haar hoofpyne en aanvalle teruggekeer. Verlede jaar het dit vererger en sy is ’n paar keer in die Worcester-hospitaal opgeneem en weer na Tyger­berg oorgeplaas. By Tygerberg het hulle die slegte nuus met ons gedeel – haar kanker is terug,” vertel ’n bewoë Bronwyne.

“Die kanker het versprei en ons is in Januarie meegedeel dat hulle niks vir haar kan doen nie, behalwe om haar te help met die pyn.”

Dinsdag 28 Januarie het die gevreesde dag aangebreek en terwyl haar ma by haar gesit het, het sy haar oë toegemaak en haar stryd verloor.

Haar pa se broer, Danny Paulse, vertel hoe lief hy vir haar was.

“Sy was ’n vriendelike mens en haar hart was mooi. Sy het omgegee vir ander en ons deur al die moeilike tye laat lag. Dit was nooit maklik nie, maar nou ly sy nie meer nie.”

Shenay was ’n leerder aan Eden Skool vir LSO (Leerders met Spesiale Onderwysbehoeftes) in Worcester en het ’n groot impak op haar onderwysers gemaak.

“Sy het in ons harte geklim. Sy het ’n natuurlike aanvoeling vir gasvryheidstudies gehad en sou moontlik haar toekoms daarin kon bou, maar die Here het ’n ander plan met haar gehad. Sy sal altyd onthou word vir haar dierbaarheid en vriendelikheid,” het haar onderwyser, Harry Claassen, aan Standard gesê.

Die skool wou spesiaal vanjaar vir haar ’n matriekafskeid hou aangesien sy vreeslik uitgesien het na die jaar en sy graag in ’n mooi rok wou pronk en haar skoolloop­baan vaarwel roep – ’n droom wat kortgeknip is.

“Ek weet dit is nie maklik nie, maar sy is verlos. Ons kan net dankie sê aan almal wat ons al die jare ondersteun het, vir ons gebid het en ons lewe probeer makliker maak het,” sê Bronwyne.

Shenay laat haar ma en 15-jarige broer agter.

Haar begrafnis sal Saterdag 8 Februarie vanuit haar ouerhuis in Leipoldtlaan in Esselenpark geskied en sal dan gevolg word deur ’n diens in die Sion AME kerk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.