Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Chirurg verwyder koeël uit kaak
Lena kook alweer ná skietery
Lena Johnson


Daar is ’n deel van Kolgansstraat waar die huise nie vensters het nie. Sinkplate en houtbord is oor feitlik elke venster wat straat toe kyk vasgekap.

Aan die binnekant woon gesinne wat dwaalkoeëls en klippe probeer uithou. Aan die buitekant voer twee bendes ’n oorlog.

Lena Johnson woon in dié deel van Kolgansstraat, in die hart van die oorlogsone vir die bendes van Avianpark.

Die dag toe Lena raakgeskiet is (24 April) was sy eers in haar sitkamer toe die skote begin klap het. Sy het gehoor hoe die buurvrou buite na haar kinders soek. Uit bekommernis is Lena buitentoe en net daar, in haar eie voortuin, het die koeëls haar getref.

“Toe ek wil omdraai, toe voel dit of my kop oopbars. Ek het nie geweet of ek lewe nie.”

Lena se sopkombuis-kollega het die polisie laat kom. Sy is eers Worcester-hospitaal toe en dieselfde dag na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas. Sy is twee keer in die regterhand geskiet en een keer in die kaak. By Tygerberg het hulle die koeëlfragmente uit haar hand verwyder maar met haar terugkeer na Worcester was die een in haar kaak nog net daar.

Sewe koeëlgate sit nou in die tuinmuur, op die presiese plek waar tot 150 kinders twee keer per week buite wag vir ’n bietjie kos. Lena bedryf saam met Wilma Smile en Thelma Goliath die Johnson’s Care House-voedingskema uit haar huis.

Ons moes al ’n plan maak as hulle so skiet en al daardie kinders hier by my indruk

,” vertel sy in haar klein sitkamer-kombuisie. “Dit is baie onveilig.”

Dit is waarom sy ’n verlate huis skuins oorkant die pad as ’n veilige nasorghuis wil inrig. Die vorige eienaar is in bendegeweld dood en sy vrou en kinders het eienaarskap aan Lena se niewinsgewende organisasie oorgeteken. Hulle sien nie kans om langer daar te bly nie.

Vir Lena is die oordrag van die huis ’n saak van dringendheid, nie net omdat sy die kinders uit die gevaarsone wil kry nie, maar ook omdat die leë huis nou soos tientalle ander wat leegstaan, vinnig afgetakel word.

Gemeentelede van die NGK Worcester-Vallei – sakemanne wat al lank die sopkombuis ondersteun en beurte maak om in te ry met kos – help haar, maar is bekommerd dat daar later niks van die plek gaan oor wees nie.

Lena Johnson
Die vroue van Johnson’ Care House in hulle klein kombuisie: Thelma Goliath, Lena Johnson en Wilma Smile.
Lena Johnson
Die afgetakelde huis wat Lena nodig het. Foto's: Elana van der Watt

Burgemeester Antoinette Steyn sê toe Lena verlede jaar met haar kom gesels het, het sy verduidelik dat die munisipaliteit verplig is om alle wetlike prosedures te volg en te verhoed dat die oorspronklike eienaar later weer op die herstelde huis aanspraak maak.

Die tydsame proses – ’n groot frustrasie vir Lena – het al gevorder en ’n prokureur in die gemeente het gehelp met die opstel van die oordragdokumente. Die prokureur wag nou vir die munisipale klaringsertifikaat, na verneem word omdat daar uitstaande skuld op die eiendom is.

Die burgemeester het verdere navrae deur Standard na die munisipale direkteur van finansies gestuur, wat onderneem het om terugvoering in samewerking met die behuisingsafdeling te gee.

Intussen het Lena-hulle weer begin kook en is sy net so toegewyd soos voor die skietery. “Jy moenie vandag ’n ding doen en môre sê jy het nie tyd nie. Jy moet passie hê. Hierdie is my passie. Is ek mismoedig? Glad nie! Ek vertrou net op die Here.”

Lena Johnson
Prof. Frans Grotepass herstel Lena Johnson se kaak.

Bekende chirurg help Lena Johnson gratis

’n Bekende kaak- en mondchirurg van Durbanville het Maandag ’n koeël uit Lena Johnson se gesig gehaal en haar versplinterde kaak met ’n plaat gespalk.

Prof. Frans Grotepass, wat deur plaaslike dokters as legendaries beskryf word, het dit gratis gedoen. Koeëlfragmente is reeds in Tygerberg-hospitaal uit Johnson se regterhand verwyder, maar nie uit haar kaak nie.

Johnson het met die hulp van dr. Jan-Hendrik Hofmeyr, ’n Worcesterse tandarts, en dr. Johan Blomerus, ’n radioloog, verdere mediese sorg gekry en by Grotepass uitgekom.

Hofmeyr en Blomerus is twee van vier gemeentelede van die NG kerk Worcester-Vallei wat die kos vir die Johnson’s Care House-sopkombuis borg en weekliks daar gaan aflaai.

Volgens Hofmeyr, wat Johnson Maandag Kaap toe geneem het, was dit ’n groot operasie. “Grotepass het dit onder lokale verdowing gedoen – ’n operasie wat gewoonlik onder narkose gedoen word.” Hy het tien kaakfragmente en die koeël verwyder voor hy die kaak gespalk het. Hofmeyr glo Johnson sal goed herstel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.