Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ma se graf steeds “weg”

’n Gesin wat maande reeds met die Theewaterskloof-munisipaliteit worstel om hul ma se graf in die Villiersdorp-begraafplaas op te spoor, het steeds geen antwoorde nie.

Intussen is een van die gesinslede aan kanker dood, voordat sy haar broer se laaste wens tot vervulling kon sien kom.

Standard het laasjaar berig oor ’n ma, Cornelia Maree, wat in 2005 begrawe is en wie se graf nie deur die munisipaliteit of haar familie opgespoor kon word nie.

Toe Cornelia se seun, Daniël, in Februarie 2019 oorlede is, was dit sy laaste wens om saam met sy ma in die dubbelgraf begrawe te word. Dit is waar hul familie se probleme begin het.

Sona Janse van Rensburg, Cornelia se dogter, sê hierdie was die moeilikste paar maande van die familie se lewe.

“Hoe verloor ’n munisipaliteit die lokaliteit van iemand se graf? Dit is verregaande. Beloftes is gemaak en moontlikhede is gekommunikeer, maar steeds is daar geen uitsluitsel oor die saak nie. Die graf is steeds basies weg. My broer se boedel is ’n gemors aangesien hy in ’n tydelike graf is en geskuif moet word na ons ma se graf toe – iets wat nie kan gebeur nie en nie ooreenstem met sy wense in sy testament nie,” sê sy.

Intussen is Sona en Daniël se ander suster, Sterna Bosman, onlangs aan kanker oorlede. Standard verneem dat Bosman enkele dae voor haar afsterwe aan Johan Rousseau van die begrafniswaghond, FIRA (Funeral Industry Reformed Association) gesê het dat hulle ’n swaar Kerstyd moes deurmaak en nie kan rus vind nie, want niemand weet waar hul ma se graf is nie en hul broer se laaste wens nog nie uitgevoer is nie.

“Ek het nie woorde. Die afgelope paar maande was baie moeilik en nou het ons nog ’n persoon aan die dood afgestaan. Ons soek antwoorde, ons soek resultate – soos ek nou voel wil ek die wêreld omkeer en vernietig. Ons het nie eers Kersfees of nuwejaar gevier nie,” sê ’n emosionele Sona aan Standard.

Ons soek antwoorde, ons soek resultate – soos ek nou voel wil ek die wêreld omkeer en vernietig.

Die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) het in Oktober laasjaar bevestig dat hul rekords en die register-inligting ontbreek, maar nou sing hulle ’n ander deuntjie.

TWK het destyds aan Standard gesê dat van die grafregisters weg is en dat dit spruit uit probleme van die vorige regering wat daar aan bewind was.

Maar vanoggend (7 Februarie) sê Hugo Geldenhuys, woordvoerder van TWK: “Die munisipaliteit se rekords is op datum en dié situasie is ‘n eenmalige gebeurtenis. Alle begraafplase in Theewaterskloof word op datastelsels gelaai en gedokumenteer.”

Johan het aan Standard gesê dat dit “loutere snert is” en “nie toegeskryf kan word aan ’n regering wat jare gelede in bewind was nie.”

“Dit is al jare wat die probleem reg oor die land heers. Daar is geen beheer oor begraafplase en hul stelsels nie,” sê Rousseau.

“Die Grondwet bepaal dat die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), tesame met die Suid-Afrikaanse vereniging van plaaslike regerings (Salga), in beheer van die begraafplase, krematoriums en begrafnisondernemers moet wees, maar dis die afgedwonge verantwoordelikheid wat na plaaslike en provinsiale wetgewers verplaas is. Dit is ’n wesenlike kommer dat geen wetgewing vir Cogta bestaan nie.”

Die begraafplaas in Villiersdorp waar die omstrede soeke na die graf tans plaasvind.Foto: JP Myburg

Fira praat al die afgelope 20 jaar oor knelpunte wat vandag nog nie ingestel is nie.

“Salga was sedert 2001 met ons (Fira) in gesprek. Ons het hul nasionale vergadering toegespreek en ons hulp aangebied om sake soos hierdie te probeer voorkom en wetgewing ingestel te kry,” sê Rousseau.

TWK het in Oktober gestel dat hulle alle samewerking gee om die graf op te spoor, maar vandag is daar volgens FIRA en die Maree-familie geen uiteinde of resultaat nie en die kostes hoop net op.

“Die kostes beloop nou al oor die R80 000. Mense moes aangestel geword het, ons het afgery met ons toerusting of vir Daniël by sy ma te begrawe en toe te sien dat geregtigheid geskied. Daar is al geen poging aangewend om ’n moontlike graf wat uitgewys is deur DNS-toetse te ondersoek soos aangeraai is nie. Ons het egter al baie verwysings vir TWK gegee om die probleem op te los aangesien hulle die enigste een is met die mandaat om dit uit te voer,” sê Johan.

TWK sê die graf is opgespoor en die munisipaliteit is tans besig om DNS monsters van die oorskot te bekom. Die DNS van die oorskot sal dan ontleed word om te bepaal of dit met die DNA van die familie ooreenstem. Tans word die DNS-toetse geverifieer.

Johan sê dat dit onwaar is en dat geen poging al aangewend is met die familie kontak te maak om ’n DNS monster te kry nie en dat TWK nie met sekerheid kan sê hulle die verlore graf opgespoor het, totdat die toetse nie uitgevoer is nie.

“Ons hoop die saak kan vinnig tot ’n einde kom. Dit is ongehoord dat dit so sloer,” sê Johan

Fira gaan die familie bystaan om ’n siviele eis teen die munisipaliteit in te stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.