Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ma, seun sterf in bloedbad

’n Ma en haar seun het Sondag omgekom toe albei met ’n hamer en skroewedraaier vermoor is.

Die voorval waar Melvinia Adler (30) en haar 10-jarige seun, Jovante, vermoor is, het Sondag (8 November) in Maronestraat plaasgevind.

“Die voorval het om 23:15 in Roodewal plaasgevind. Dit blyk die ma en seun is herhaaldelik met ’n hamer en skroewedraaier aangeval. Dit word vermoed die verdagte, die 44-jarige Moegamat Fortuin, was Adler se vriend en hy is op die toneel in hegtenis geneem,” het ’n polisiewoordvoerder gesê.

Volgens ’n goeie vriendin van Adler, wat nie haar naam genoem wil hê nie, het die paartjie glo Vrydagaand ook gestry.

“Hulle twee het Vrydagaand met mekaar gestry en ek het opgelet haar arm is seer, want sy het dit die hele tyd vasgehou. Ek het ook Saterdag ’n polisievoertuig voor hul huis gesien, maar ek kan nie sê of sy toe ’n saak aanhangig gemaak het nie,” sê die vriendin.

Gerugte doen die ronde dat dit nie die eerste keer was dat die man ’n vriendin van hom te lyf gegaan het nie. Adler se vriendin het dié gerugte beaam.

“Hy het glo sy kind se ma so aangerand dat sy vandag in ’n rystoel sit. Voor haar het hy ook ander aangerand. Hy was nog altyd so gewelddadig. Ek kan nie sê of hy al voorheen haar seuntjie seergemaak het en of hierdie die eerste keer was nie.” 

Die polisie kan egter nie in hierdie stadium bevestig of Adler wel Saterdag ’n saak aanhangig gemaak het nie of dat die polisie Saterdag daar was nie.  

Jovante se klasonderwyser by Esselenpark Primêr, Angeret Sauer, sê dit is vir haar en die res van haar klas ’n emosionele tyd.

“Hy was gelief onder die maatjies. Hy was stil in die klas en het altyd sy werk gedoen. Maandag was dit vir ons ’n baie moeilike dag; baie emosioneel,” het die bewoë juffrou gesê.

Die skool het Maandag ’n boodskap op sy Facebook-blad geplaas: “Ons skool is vanoggend in hartseer gedompel. Een van ons leerders (gr. 3) is gisteraand deur die koue hand van die dood weggeneem. Jovante, rus in hemelse vrede. Sterkte ook aan Jamie-Lee Adler (gr. 6) wat in dieselfde tyd ’n mamma en boetie verloor het. Namens die skool en die breër skoolgemeenskap wil ons die uitgebreide familie sterkte toewens. Ons gebede is dat God vir julle vertroosting in hierdie tyd sal wees,” het die inskrywing gelui.

Adler se tannie, Joanie van Wyk, sê sy was ’n goeie, spontane en liefdevolle mens.

“Ek kon haar enigiets vra en sy het nie gehuiwer nie, sy was ’n omgee-mens. Hulle het regtig nie verdien om so van hul lewe ontneem te word nie. Jovante was alles in my lewe. Ek kan dit nou nog nie oor my hart kry dat hulle so wreed vermoor is nie,” vertel ’n emosionele Van Wyk, wat voor 23:00 na die toneel geroep is. 

Sy noem ook hoe Fortuin glo sy vorige vriendin aangerand het, maar ook hulle het gedink hy het rustiger geraak.“Ons het gedink hy het verander. Hy het gereeld saam met Mella kerk toe gegaan. Ek kan wel sê hy was ’n baie jaloerse mens en sy kon nie eens met iemand staan en gesels nie, anders het hy haar van allerhande dinge beskuldig. Maar hy hoef waaragtig nie daai seuntjie so seer te gemaak het nie. ’n Mens weet ook nooit regtig wat met mense aangaan nie.”

Adler laat ’n 12-jarige dogter agter en volgens Van Wyk vat sy wat met haar ma en broer gebeur het maar moeilik.

“Dis baie hartseer wanneer sy in die oggend wakker skrik en na haar broer en ma soek. Ons moet baie aandag aan haar skenk en seker maak sy is oukei,” het Van Wyk meegedeel.  

’n Begrafnisdiens word vir Saterdag 14 November beplan. Fortuin het Dinsdag 10 November in die hof verskyn en sal op 17 November vir ’n bortogaansoek verskyn. Volgens die woordvoerder was hy uit op parool vir ’n vorige aanrandingsaak, en sal moontlik nie borgtog kry nie omdat hy sy paroolvoorwaardes verbreek het. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.