Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
'My seun se donker kant was nie wie hy eintlik was nie’
Man (21) doodgeskiet op woonsteltrap


’n 21-jarige man van Riverview in Worcester is Vrydag in die vroeë oggendure op ’n vriend se woonsteltrap doodgeskiet.

Bronwin Lovelot het glo saam met ’n vriend gesit en rook toe vreemde mans na hulle toe aangestorm gekom en begin skiet het. Vermoedelik is drie koeëls afgevuur wat die traliedeur en die venster van die woonstel in Riverview se C-blok beskadig het. Lovelot is ook twee kopskote toegedien.

Elsie van der Westhuizen wat in die woonstel woon waar alles buite afgespeel het, is baie getraumatiseerd na die voorval.

“Ons almal het al geslaap. Dit was so om-en-by halfvyf toe die skote begin klap. Ons almal het wakkergeskrik en die bure het ook uitgestorm. Teen daai tyd het dié wat hom geskiet het al weggekom en hy het half op die trap en half in ons woonstel se deur gelê en uitbloei terwyl my seun probeer help het,” het Van der Westhuizen aan Standard vertel.

Van der Westhuizen se seun was geskok na die gebeure en het verkies om nie met Standard te praat nie.

Met Standard se besoek aan die toneel kon die koeëlmerke teen die deur en venster duidelik gesien word. Plasse bloed het orals op en teen die trappe gelê.

Lovelot se grootmaakma, Amanda Lovelot, is van mening dat die moordenaars bekend was aan haar seun en moontlik deel is van ’n bende waarmee hy vertroud was.

Amanda, wat twee woonstelblokke weg was van die blok waar haar seun vermoor is, was besig om reg te maak om te gaan werk toe sy die skote hoor.

“Ek werk op ’n plaas naby De Doorns. Ons staan al net na 04:00 op om vir werk reg te maak. Ek het die skote gehoor en dadelik gebid en gehoop dit is nie iemand wat ons ken nie - toe is dit die seun wat ek grootgemaak het. Ons is kwaad oor wat gebeur het en ons is ook hartseer oor wat gebeur het. Mens verwag nie so iets nie. Ek weet hy het sy donker kant gehad – hy het baie foute gehad, maar hy was nie net sleg nie. Dit was nie wie hy was nie,” het sy gesê.

Hy wou eintlik net uitkom, maar as jy in is, dan is jy in. Daar is nie omdraaikans nie.

Brownin was Amanda se susterskind. Toe hy twee maande oud was het sy ma hom aan Amanda en Brownin se ouma gegee om na om te sien. Sy ouma is oorlede toe hy klein was en Amanda moes verder na hom omsien.

Sy vertel verder dat sy weet hy (Bronwin) was by bendes betrokke en dat hy al deel was van misdade wat deur die bendes gepleeg is.

“Hy wou eintlik net uitkom, maar as jy in is, dan is jy in. Daar is nie omdraaikans nie. Die Bronwin wat ek geken het en die Bronwin wat die bendes en die ander mense geken het – dit is twee verskillende mense,” het Amanda aan Standard gesê.

Kaptein Tobela Dyasi van Worcester-polisie het aan Standard bevestig dat Lovelot op die toneel dood verklaar is en dat ’n moordsaak ondersoek word. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die trappe van C-blok in Riverview waar Brownin Lovelot vermoor is.Foto: JP Myburg

“Hy was eintlik so ’n vriendelike seun. Hy het baie vir oumense omgegee omdat hy so lief was vir sy ouma. Ek voel so skuldig. Hy het lank vir my gevra dat ek vir hom tekkies moet koop, maar daar was nooit geld nie. Nou is hy weg,” het Lovelot se oom, Joshua Jonas, gesê.

Bronwin se begrafnis sal Saterdag, 14 Desember om 10:00 in Riverview by die woonstelle plaasvind.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.