Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Man al raadop oor hy 9 jaar vir ID wag

’n Worcesteriet wil al sy hare uit sy kop trek omdat hy al nege jaar sukkel om sy Suid-Afrikaanse burgerskap en identiteitsdokument te kry.

Hy sê hy kan niks doen sonder ’n ID nie.

Colin van West (69), ’n Suid-Afrikaanse boorling, het in 1977 na Namibië getrek vir werk. Hy het toe Namibiese burgerskap aangeneem. Hy het daar gewerk tot sy aftrede in 2009. Hierna het hy teruggekeer na Suid-Afrika, maar ná vele pogings die afgelope nege jaar het hy steeds nie daarin geslaag om weer sy Suid-Afrikaanse burgerskap en ID te kry nie.

Van West kan nêrens aansoek doen vir werk nie. Om te oorleef, moes hy al drie sy motors verkoop en intrek by ’n blinde vrou in Roodewal.

“Ek het by die vrou ingetrek en ons lewe nou van haar pensioen. Ek het al baie geld spandeer en telkemale tussen Worcester en die Paarl gereis na die onderskeie kantore van binnelandse sake om my ID te probeer kry. Daar is altyd verskonings,” sê hy.

Sy ouers is albei Suid-Afrikaners en hy is in Worcester gebore en het hier skoolgegaan.

“Toe ek in 1977 in Namibië gaan werk het, moes ek my Suid-Afrikaanse burgerskap afsweer sodat ek ’n Namibiese burger kon word.

“Ek het ’n jaar gelede my polisieklarings by binnelandse sake ingedien. Hulle het nou alle nodige dokumente, maar steeds wag ek en niemand kan my sê hoekom nie.

“By Worcester sê hulle hulle wag nog vir binnelandse sake in Paarl en daar sê hulle hulle wag vir Worcester. Niemand wil verantwoordelikheid neem nie,” sê Van West.

Sy suster het nege maande gelede uit Namibië gekom en sy het reeds haar ID ontvang.

“Almal in Worcester ken my, almal weet ek is ’n musikant en almal vra my altyd of ek nog vir my ID wag.

“Die storie moet nou na ’n kant toe begin loop. Ek soek ’n verduideliking oor waarom ek nog nie my ID het nie.”

Standard het die departement binnelandse sake vir kommentaar genader, maar teen druktyd is dit nog nie ontvang nie.

Standard sal die departement se kommentaar publiseer sodra dit ontvang is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.