Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Man wat kleuter gevat het sê hy ‘wou haar net help’

“Ek wou haar net help, dis al.”

Só sê die 19-jarige man oor beweringe dat hy ’n tweejarige meisie van Hexpark voorverlede Sondagmiddag ontvoer het.

Volgens die jongman het hy die meisie se ouers help soek.

Standard het verlede week berig oor die tweejarige meisie wat ’n entjie van haar huis in die Hexpark-woonstel­blokke ontvoer is. Sy is omtrent twee uur later gevind. Die jong man ontken dit ten sterkste en sê hy het die meisie dwalend tussen die woonstelblokke aangetref.

“Ek was op pad om my oom weg te neem in Hexpark. Ek sien toe die kindjie in die pad en daar was geen mense nie. Ek het besluit om haar te vat en het tot by my ouma gegaan. My ouma het gevra wie se kind dit is en ek het gesê ek weet nie. Ek het toe gedink ek gaan rondvra of hulle weet wie se kind dit is. Ek het gesoek maar niemand het die kind se ouers geken nie,” vertel hy.

Hy sê hy wou die kind na sy huis in Roodewal neem en sy familie daar gevra het om haar ouers te help soek en die polisie te bel. “Dis toe ’n tannie daar verbygekom het. Ek het haar gevra of sy die kind se ouers ken en sy het ja gesê. Ek het die kind vir haar gegee. Toe ek by die huis kom het die mense my begin aanval. Ek is kwaad want ek weet ek het niks verkeerds gedoen nie,” voeg hy by.

Sy tannie, wat Sondag by was toe die voorval plaasgevind het, sê die polisie en die kindjie se ouers was by hul huis.

“As die kind gemolesteer was, sal ons dit verstaan, maar die kind het niks makeer nie. Die ouers het gesê dat sy oukei is en dat sy niks oorgekom het nie.

“Ons wil net hê dat sy naam skoon is, want hy het sy hele toekoms voor hom. Hy is nog ’n jong man en omdat gerugte die ronde in die gemeenskap doen dat hy die kind molesteer het, het dit hom en die hele gesin ontstel,” sê sy.

Volgens Sherane en Eugene Willemse wil hulle net weet hoekom hy haar uit Hexpark wou neem.

“Ons was die Sondagaand saam met die polisie by hulle. Ons het gekom om antwoorde te kry. Hoekom wou hy haar Roodewal toe vat? Hy was nie in ’n toestand om te praat nie,” sê Eugene.

“Ek verstaan dat hy haar wou help, maar hoekom wou hy my kind van Hexpark af Roodewal toe neem? My vraag is net hoekom was hy nog nie hier by ons nie?

“Kom na ons toe en sê vir ons dit was nie jou bedoeling nie. Ek glo stellig as hy iets wou doen, sou hy dit lankal gedoen het. Ek is dankbaar dat hy niks aan my kind gedoen het nie, want dit kon soveel anders gewees het. Sy het niks oorgekom nie en ek is dankbaar, maar die trauma wat ons bybly omdat ons gedink het sy is weg, is die ergste,” sê Sherane.

Geen saak is nog by die polisie aanhangig gemaak nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.