Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Mesdood: ‘Dit was selfverdediging’

Die tante van ’n vrou wat teregstaan vir die moord op Desmond Filander, sê die oorledene se familie se weergawe van hoe dinge gebeur het, is nie die waarheid nie.

Volgens haar tante is die aangeklaagde, Bianca Simon, lank reeds deur die oorledene mishandel en het sy in noodweer opgetree.

“Bianca het die Saterdagmiddag (7 Desember) by ons kom slaap. Sy het glo vir die oorledene gesê sy gaan liewer by ons kom slaap om enige onnodige drama te vermy, want sy wou hê hy moes daardie naweek uittrek,” verduidelik Theresa Simon-Cata.

Toe sy die volgende middag by die huis kom, was hy steeds daar en het hy saam met sy vriende gesit en kuier.

“Sy en haar 12-jarige seun het saam met ’n vriendin huis toe gestap. Toe sy daar kom, het hy glo gesê dat daar daardie aand ’n lyk daar sou uitgaan. Volgens die getuie wat saam met haar was, het die twee begin stry en hy het haar glo amper van die trap af gegooi, maar sy vriende het hom gekeer.”

Verder verduidelik sy dat Simon toe die woonstel in gevlug het om van Filander af weg te kom.

“Haar seun het ook ingehardloop. Die twee het toe met mekaar gestoei en sy is só hard geklap dat sy op die vloer beland het. Hy het haar toe begin wurg. Sy wou net wegkom; uit sy kloue kom. Dit het alles in volle sig van haar seun gebeur.”

Iemand het glo aan Simon-Cata genoem dat daar ’n mes in ’n bordjie was naby waar die twee gestoei het.

“Ek kan nie presies sê hoe nie, maar op ’n manier het sy die mes in die hande gekry en hom gesteek sodat hy haar kan los, maar hy het haar steeds gewurg, toe steek sy hom ’n tweede keer; toe los hy haar uiteindelik. Sy het ook ’n lelike bytwond aan die arm gehad.”

Volgens Simon-Cata het Filander haar niggie reeds ’n geruime tyd mishandel; ook dat dit tot op ’n punt gekom het dat sy sake teen hom aanhangig gemaak en ’n interdik teen hom verkry het.

“Sy wou ons nooit vertel nie. Eendag het haar vriende ons vertel en dis toe sy besluit het om self ook vir ons te vertel. Sy het altyd die een of ander merk aan haar liggaam gehad – in die gesig, aan haar arms. Dit was altyd baie opmerkbaar, want sy is lig van gelaat. Hy het haar ook van haar vriende en familie weggehou. ’n Mens het altyd ’n ongemaklike gevoel gehad wanneer ons vir haar gaan kuier het – asof hy ons nie daar wou hê nie. Ek het simpatie met die verlies van sy ma en die res van die familie. Ek kan myself nie indink hoe dit moet wees om ’n kind te verloor nie. Maar hy het haar vir ’n lang tyd verneder en dit maak my net so hartseer.”

Simon is Vrydag op borgtog vrygelaat en sy moet Dinsdag 18 Februarie 2020 weer in die hof verskyn.

“Sy vriende teister haar nou. Hulle loop of ry verby die huis en skreeu ‘moordenaar’, of sê ‘daar sit die moordenaar’. Gelukkig het sy baie goeie vriende wat haar ondersteun en bemoedig en dit help baie.”

Haar seun besoek tans ’n sielkundige ná die gebeure wat hy aanskou het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.