Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Mid-eeu styl gebou groet vir oulaas

Hoogstraat het verlede week die Ou Santambank-gebou langs Jaffe’s Ford gegroet om plek te maak vir ’n splinternuwe ontwikkeling.

Hierdie gebou was een van Hoogstraat se min geboue wat in die mid-eeu moderne styl ontwerp is.

Met sy byekorf-vooraansig, wat aanvanklik bestaan het uit sewe agthoekige vensters bo en onder, die golwende driehoekige oorhangdak op die tweede verdieping, die indrukwekkende ingangsportaal van staal, glas, groen teëls, driehoekige trappe en ingeboude plantbakke en die feit dat dit een van die min – indien nie die enigste – geboue in Worcester is wat ’n atrium in die middel van die gebou met bome, ’n tuin en visdammetjies, gehad het. Dié atrium is in 1982 toegebou.

Met die opveil van Worcester se eerste erwe in 1820, was hierdie perseel deel van die groter erf wat Bernabé de la Bat op die hoek van Hoog- en Fairbairn­straat gekoop het.

Hierna is dit verkoop aan JJ du Toit en in 1858 dra hy dit oor aan sy seun, Willem Jacobus du Toit.

In 1874 word Abraham Andries le Roux junior die eienaar. Sy pa was een van Hoogstraat se eerste wamakers.

In hierdie jare word die perseel onderverdeel en Albertus Daniël Viljoen koop die huis en dit staan as Viljoenhuis bekend. Vandag bestaan daar nog net een foto van hoe Viljoenhuis gelyk het.

Santam het Viljoenhuis en die omliggende eiendomme in 1968 begin koop en die eiendomme gekonsolideer.

Die argiteksfirma, Naudé, Papendorf en Van Der Merwe, wat destyds in die Sanlam-gebou (hedendaagse Media 24-gebou) in Kaapstad gesetel was, is aangestel om die Santam-gebou vir Worcester te ontwerp.

Van die landmerke wat hierdie argiteksfirma ontwerp het, is onder meer die kraamsaal van die Mowbray-hospitaal, die Cape of Good Hope Savings Bank in St Georgesstraat, geboue vir Hoërskool DF Malan en die anatomiegebou van die Universiteit van Kaapstad.

DF Naudé is in 1967 oorlede voordat die Santambank-gebou voltooi is en sy vennoot, die bekende argitek Hannes van der Merwe (1924-2012) het toe die voltooiing van die tekeninge van die Ou Santambank-gebou deurgesien.

Die gebou is opgerig deur die bou-aannemer, Gardencrete van Worcester, teen ’n koste van R350 000.

In 1982 is daar besluit om die Santambank-gebou oor te doen.

Die ingangsportaal is in 1983 verander met ’n groot foyer waar die tweede verdieping oop is en daar is baie van glas, teëls teen die mure, mooi beligting, driehoekige staal- en houttrappe en ingeboude plantbakke met binnenshuise plante gebruik gemaak.

Later, toe kantoorruimte beskikbaar geraak het, het De Vries, De Wet en Krouwkam sy eerste kantore dáár gehad en daar was ook ’n makelaarsfirma.

Hierna is die Ou Santambankgebou verkoop en het die Landbank uiteindelik tot op die laaste sake dáár gedoen.

Die Santambank-gebou het aan die linkerkant voorsiening gemaak vir ’n winkelruimte wat verhuur kon word. Die eerste winkel wat hier was nadat die gebou oopgemaak het, was Cloete’s Wolwinkel; van 1982 tot 1993 was dit ’n Standard Bank-agentskap en in September 1993 het Milky Lane hiér oopgemaak.

Uniek aan Milky Lane was die venster wat dit op straat gehad het, waar Worcesteriete altyd in lang rye gestaan het om hul roomys, wat destyds R2 gekos het, by die venstertoonbank langs die sypaadjie te koop.

Hierna het Nicky la Rufa ’n pizzaplek genaamd 4 Seasons hier oopgemaak, waarna dit ’n selfoonwinkel geword het wat dit tot op die einde toe was.

Ten tyde van sy sloping was die Ou Santambank-gebou 44 jaar oud gewees en word die agterkant van die gebou behou om as kantoorruimte benut te word.

Die vooraansig gaan verander word as ’n vertoonlokaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.