’n Vermeende rowersindikaat het Maandagoggend om 03:41 by die Mountain Mill-winkelsentrum die deur van ingang 4 (Pick n Pay-ingang) met kabels oopgeruk, en die winkelsentrum met 'n motor binnegekom en by verskeie winkels toegeslaan.
“Die polisie het aan ons genoem dat die voertuig bekend is aan hulle en betrek word by minstens 40 ander soortgelyke voorvalle,” sê sentrumbestuurder van Mountain Mill, Sam Orton.
Die rowers het met die motor tot by Dischem se winkel gery, twee rowers het uit die motor gespring en by die winkel ingebreek.
“Die rowers het ons rêrig seergemaak met vanoggend se inbraak. Hulle het met ’n Hyundai ix-35 tot by ons deur gery en uitgespring om ons te besteel. Hulle het met vier baddens goed weggekom en dit is duidelik dat hierdie rowers geweet het wat hulle doen omdat hulle net vir die duur items gegaan het,” sê Dischem se winkelbestuurder, Johan Piek.
“Ons sal ons somme maak soos die dag aangaan maar dit is op hierdie stadium duidelik dat dit duisende rande se skade sal wees.”
Die ander twee rowers het verder aangery tot by Computer Mania se winkel.
“Ons kan duidelik op ons kameras sien hoe die rowers ’n betonblok deur die voorruit van die winkel gooi en die winkel binnekom,” vertel Computer Mania se winkelbestuurder, Robert Shorne.
Hy sê op die kameras kan gesien word dat die winkelsentrum se sekuriteit net staan en toekyk hoe die rooftog gepleeg word.
“Ons is nog besig om presies was te stel hoeveel skade ons het maar op hierdie stadium lyk dit asof dit meestal hommeltuie, skootrekenaars en rekenaarskerms wat die rowers geneem het. Hulle het dit alles in groot kruideniersakke gesit,” sê Shorne.
Die polisie het die voorval bevestig en is tans besig met hul ondersoek. Dischem en Computer Mania is albei reeds weer oop vir besigheid.