Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
'n Held teen middagete, dis Klaas de Vos


Vir Klaas de Vos (46) het Woensdag 10 Julie soos enige ander dag begin, maar min het hy geweet dat hy as held bekend sou staan teen middagete. Wat Klaas dié dag gedoen het, is om vir Bennie Koch uit sy brandende voertuig te red nadat ’n vragmotor wat gas vervoer het reg langs hom ontplof het.

Klaas is vier jaar al ’n toesighouer en afdelingshoof by Raimondi’s in Worcester. Soos elke oggend, was Klaas douvoordag op sy pos en het hy sy span gereedgemaak om items te laai wat vir dag afgelewer moes word.

Klaas de Vos en Bennie Koch nadat hulle by die hospitaal herenig is na die ontploffing Foto: Verskaf

Omstreeks 05:45 het hy die gevoel gekry dat die mis wat in die lug hang, iets meer inhou as gewoonlik. “Ek het vir my manne gesê iets is nie lekker nie, iets vreemds is aan die gang en toe ruik ek net gas. Ek besef toe dadelik dat die mis in die lug eerder rook en gaswalms is wat die hele deel voor ons besigheid gevul het. Ek het die manne gewaarsku en gesê dat ons eerder moet wegkom. Toe was dit eintlik klaar te laat,” vertel Klaas.

Skaars vyf minute daarna het die eerste ontploffing plaasgevind. “Ons het gehardloop na die agterdeur van die gebou toe en ek kon die hitte van die vlamme teen my nek voel. Die grond het gebewe, die dak het begin insak en dit was dik rook oral rondom ons. My eerste instink was om te bepaal of al my manne reg was – en goddank hulle was,” sê hy.

Op hierdie stadium het Klaas nie besef wat vir hom wag toe hy na die voorkant van die gebou hardloop nie.

“Ek het rook en vuur gesien en dit was dit. Ek het gesien dat die trokdrywer vroeër die trok verlaat het en aan die oorkant van die pad gaan staan het toe ons die gas ruik. Agter die gastrok het ’n motor gestaan wat aan die brand was – ‘n man het uit die brandende wrak gekruip en hom hulp geroep.

Hy het geskree: ‘Ek brand, help my, ek brand – iemand help my!’ en ek het die man opgetel en gedra.
Klaas de Vos

Hy het vreeslik gekla oor pyn en hoe seer hy het toe ek hom in die bakkie laai op pad na Mediclinic in Worcester. Ons het gejaag en moes deur die verkeer, die vlamme en die rook seil om hom by die hospitaal te kry.”

Klaas het op dié stadium nog nie besef dat hy eintlik die 50-jarige Bennie Koch, ’n inwoner van Worcester, se lewe gered het nie.

“Ons het by die hospitaal aangekom en is dadelik gehelp deur die personeel. Ek het toe later die dag ook hospitaal toe gegaan vir skok, maar vandag sit ek sonder ’n skrapie,” voeg hy by.

Bennie is nog in Mediclinic Worcester. Bennie se vrou, Elmien (’n verpleegster) het aan Standard bevestig dat hy na ‘n gewone saal oorgeplaas is en aansterk na die ontploffing.

Klaas vertel dat dit geblyk het of Bennie verby die gastrok wou ry toe die ontploffing plaasgevind het. Klaas en Bennie is ook Woensdagmiddag herenig. “Ek is baie dankbaar vir Klaas wat my lewe gered het. Ek sal ewig dankbaar wees aan hom en die Here wat my lewe gered het. Nou kyk ons net vorentoe,” sê Bennie.

Die presiese nagevolge van die ontploffing op Bennie sal dié gesin eers later weet. Bennie is ook ‘n vragmotorbestuurder en in die vervoerbedryf.

Klaas se dogter, Hillary (21) vertel dat sy die nuus van haar pa se heldedaad beskou as iets soos uit ‘n fliek. “Ek het gedink ‘wow, kan dit wees, my pa!’. Ek het altyd geweet die Here het iets vir hom beplan,” vertel sy.

Sy vrou, Sonia is net so beïndruk met hom en vertel dat sy haar ma 11 jaar gelede op dieselfde dag verloor het en net dankbaar is dinge het so uitgedraai.

Vragmotor ontplof
Die voorval waarin Klaas de Vos die lewe van Bennie Koch gered het, het gebeur toe 'n vragmotor wat gas vervoer het, vermoedelik 'n boom in Worcester se nywerheidsgebied getref het en daarna aan die brand geslaan en ontplof het. Verskeie ondernemings in die omtrek is in puin gelê en Raimondi's, waar Klaas werk, is ook beskadig. 

Die ontploffing is kilometers ver gevoel en skrapnel het honderde meters ver getrek. Paaie in en om die nywerheidsgebied is die oggend gesluit vir verkeer, en die polisie se Hazmat-ondersoekspan het die gebied daardie dag tydelik as onveilig verklaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.