Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
’n Ma vertel die seer word nooit minder

’n Ouer is nooit veronderstel om ’n kind te begrawe nie.

Haar kind se is dood iets wat elke dag by ’n ma van Worcester spook. Dié ma het met Standard gesels oor die pad wat ’n ouer stap wanneer ’n kind sterf.

Sy verkies om anoniem te bly.

“Twee jaar gelede, net voor Kersfees, het my seun van 33 sy lewe verloor toe hy deur ’n motor raakgery is. Ek het kort ná die ongeluk op die toneel aangekom en my seun in die pad sien lê. Ek het na sy liggaam gekyk en geskree: ‘Here my kind, hoekom lê jy so?’,” vertel sy.

Drie ambulanse was op die toneel en sy het gehoor hoe een ambulansman sê: “Ons moet die man by die hospitaal kry.”

Sy het net daar begin bid dat haar kind sal oorleef.

Met haar aankoms by die hospitaal is sy skelmpies deur ’n paramedikus ingevat waar sy gesien het hoe medici besig was om haar kind se hart weer aan die gang te probeer kry.

“Ek het net daar geknak. Toe kom die dokter na my toe en vertel dat my kind weg is. Die manier hoe daardie man my kind omgery het, spook by my. Die ooggetuies het genoem dat my kind soos ’n voël deur die lug getrek het.”

Die ma het die man wat die motor bestuur het wat haar kind gestamp het, later ontmoet.

“Die man was baie senuweeagtig. Ek het hom vergewe, maar die dag bly by my spook omdat die saak by die hof uitgegooi is. Dis asof ek nog nie afsluiting kan kry oor my kind se lewe en sy verhaal nie.”

Die bestuurder van die motor is destyds aangekla van strafbare manslag. Sy weet steeds nie hoekom die saak uitgegooi is nie, sê sy.

Sy verduidelik dit was asof haar seun geweet het dat hy binnekort gaan sterf. Hy het die Sondagoggend net voor sy dood met almal gaan praat en vrede gemaak.

“Ons het na die radio geluister en hulle het ’n kompetisie gehad waar ’n mens die liedjie se naam moes raai. Almal het dit verkeerd gekry. Hy gaan toe ’n weddenskap met my aan en sê as hy reg is moet ek vir hom geld vir lekkernye gee. Hy was toe reg dat dit Elton John se “Sacrifice” was. Ek het hom die geld gegee en hy’s weg winkel toe. Dit was die laaste keer dat ek hom ooit sou sien.”

Sy vertel dat sy kort ná haar seun se dood ’n herdenkingshoekie vir hom begin het waar sy sy babaskoene, ’n foto van hom en twee kerse hou.

“Elke oggend as ek opstaan sê ek: ‘Hello, mammie se kind’ en soms gaan staan ek net daar en praat met my seun.”

Sy sê haar seun het soveel drome gehad.

“Hy het reeds kriminologie klaar studeer en het met sy sterfte gewag om te hoor of hy as bewaarder aanvaar is. Hy was so opgewonde daaroor.”

Drie weke ná haar kind se dood is sy dokter toe en tipe 2-diabetes is by haar gediagnoseer.

“Ek gebruik nou ’n inspuiting en ’n diabeetpil. Die dokter sê die skok van my seun se dood kon dit veroorsaak het.”

Haar raad aan ander ouers wat kinders verloor het, is dat ’n mens nooit hoef op te hou dink aan hulle nie.

“Niemand mag vir jou sê dis nou tyd om te laat gaan nie. Jy verwerk jou kind se dood op jou eie tyd en as jy dit nooit verwerk nie, dan is dit ook so. Dis jou kind aan wie jy vasklou, so moet nooit ophou dink aan hulle nie,” sluit sy af.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.