Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
'Alles volgens die boek' - SAPD
‘Niemand wou ons help nie’

Twee vroulike inwoners van Worcester is erg ontsteld nadat ’n polisiebeampte teen hul motor vasgery het en na bewering met behulp van ander beamptes van die toneel af “verdwyn” het nadat die twee vroue daarop aangedring het dat hy vir alkohol getoets moet word.

Die polisie sê egter dit is glad nie so nie, en dat alles “volgens die boek” gedoen is.

Berenice Crowe se kar wat in die ongeluk betrokke was.Foto:

Berenice Crowe is deur haar vriendin Ronalda Francke met Crowe se kar werk toe geneem en in Smitstraat afgelaai. Francke het haar beurt by die kruising wat in Hoogstraat indraai, afgewag en nie gesien toe die groen pyl na links aangaan nie. ’n Man in polisie-uniform in ’n wit Toyota Hilux-bakkie het begin toeter druk en sy het gery.

“Ek draai toe in die regte baan in en sien in my spieëltjie hier kom die bakkie in die aankomende baan verbygejaag om my verby te steek. Hy het die aankomende kar se afstand onderskat en voor my ingery, teen die voorkant van my vriendin se Ford Ecosport,” het Francke gesê.

Francke het Crowe dadelik in kennis gestel, wat haar toe na die ongelukstoneel gehaas het.

“Toe ek daar kom, het ek opgelet die polisieman, ene kol. Vuyisile Xokozela, het ’n afstand van ons af gehou. Die polisie was enkele oomblikke later op die toneel en so ook die Worcester-verkeershoof, Mbulelo Giba."

“Daar was ’n ander vrou wat ook na die toneel gekyk het, maar dit het gelyk asof die polisie- en verkeerspersoneel eensydig by die polisieman se bakkie saamgedrom het,” vertel Crowe.

Ons wou net sy inligting hê vir die versekering. Al wat ons benodig het, was ’n verslag oor die ongeluk en ’n saaknommer, maar niemand wou ons help nie

Crowe verduidelik verder dat hulle dadelik op ’n alkoholtoets aangedring het, maar dat niemand na hulle wou luister nie. Oomblikke later het die polisieman van die toneel af weggery en hulle is ingelig “om maar later sy inligting by die polisiekantoor te gaan soek”. 

Die vroue het dit gedoen, maar is van bakboord na stuurboord gestuur, sê hulle.

“Ons wou net sy inligting hê vir die versekering. Al wat ons benodig het, was ’n verslag oor die ongeluk en ’n saaknommer, maar niemand wou ons help nie,” vertel hulle.

“Ons is ingelig dat die polisiekantoor geen ongeluksverslag-boeke het nie en dat ons moet wag. Ons is later na die verkeersafdeling gestuur, waar niemand ons ook aanvanklik kon help nie. ’n ‘Engel’ daar het ons toe bygestaan en verseker dat ons ’n verslag kon saamstel vir die versekering, maar steeds het ons geen verwysingsnommer nie,” sê Crowe.

Die vroue is terug na die polisiekantoor waar drie polisiemanne hulle na bewering nie wou bystaan nie. Een het hulle meegedeel dat as hulle ’n saak wil maak, hulle maar eers ’n prokureur moet kry.

“Waar het ’n mens ’n prokureur nodig as jy ’n saak wil maak – dit net om die versekering uit te sorteer? Waarom is hy nie vir alkohol getoets nie? Dit voel asof hulle (die polisie) hierdie saak probeer toesmeer,” sê die vroue.

Die vroue het langer as 24 uur later met behulp van ’n werknemer by die verkeersafdeling ’n AR-nommer vir die versekering kry – dit nadat niemand die vroue wou bystaan nie.

AO Julian Plaatjies van die Worcester-polisie het aan Standard gesê die verkeershoof was op pad werk toe en het verby die toneel gery. Plaatjies het ook bevestig dat die bakkie wat in die ongeluk betrokke was, nie ’n staatsvoertuig was nie, maar kol. Xokozela se eie voertuig is.

“Alles is volgens die boek gedoen. Kol. Xokozela het nie net van die toneel af verdwyn nie. Meneer Giba het gesê alles is afgehandel en hy mag maar ry. Die vroue is ingelig oor die prosedure en hoe en waar hulle die verslag kan kry. Geen melding van enige klagtes is op die toneel gemaak nie,” het Plaatjies bevestig.

Die vroue sê hulle is diep geskok. “Ons moet hierdie mense vertrou om ons veilig te hou en die gemeenskap by te staan, maar dan gebeur só iets. Dit voel of alles agteraf gedoen is. Ons is nie kwaad nie, ons wil net geregtigheid laat geskied. Ons moet die kar regmaak en die protokol volg om dit te doen – ’n proses wat deur die polisie vererger is,” sê hulle.

Plaatjies sê ook dat die polisie bloot gesê het indien die vroue ’n siviele klag wil indien, ’n prokureur hulle sal kan bystaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.