Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Nou gaan my drome geld’

Vir die gesegde wat lui dat jy nooit te oud is om jou drome te volg nie, is die 54-jarige Polanda Braaf van Ashton ’n sprekende voorbeeld.

Polanda, wat in Ashton gebore is, het haar grootwordjare in die kerk deurgebring en haar liefde vir die Here en musiek elke dag uitgeleef.

“Ek het baie konserwatief grootgeword, maar ek is dankbaar daarvoor. Ek was ’n oumaskind en het letterlik aan haar voete, wat die orrel getrap het, grootgeword. Toe sy ouer word, moes ek die pedale met my hande ‘trap’. Sy kon ook net so mooi sing. Die kerk was en is steeds my fondament en hier is ek aan die klanke van gospel blootgestel,” vertel sy.

Klassieke musiek het deur hul huis geklink en haar fassinering met viole het haar gedruk om haar stem se potensiaal te laat ontluik.

“Dit is verbasend wat ek met my stem kan doen. Dit skok mense soms en hulle sal my vra hoe ek dit regkry. Ek wou altyd soos ’n viool klink en kon van kleintyd af musiek lees. Ek het myself touwys gemaak met so veel instrumente moontlik om ander in die gemeenskap ook te leer.”

Polanda, wat verpleegkunde op haar ma se aandrang gaan studeer het, vertel sy onthou hoe hulle Vrydagaande as familie saamgetrek en mense van die kerk by hul huis bymekaar gekom en musiek gemaak het.

“Ek het toe nie aktief deelgeneem nie. Ek het net waargeneem en met my oë en ore geleer,” vertel sy aan Standard.

Sy en haar man het twee seuns in die lewe ingebring en besluit om haar aandag op hul groei en ontwikkeling te fokus.

“My kinders het vir lank eerste gekom en nou is ek so trots op hulle. Hulle is uit die huis en klaar geleer. Ek het altyd gesê dat ek die dag wat hulle uittrek weer op my drome gaan fokus. Nou gaan my drome geld.”

Polanda het voet by stuk gehou met daardie plan en dit is waarom sy eersdaags haar sangtalent in Amerika ten toon gaan stel.

“My seun het saam met ’n vriendin van my gekonkel en my vir ’n sangkompetisie laat inskryf. Ek wou aanvanklik nie.

“Ek het gehuiwer, maar dit was die Here se wil. Ek tree gereeld by kerke en tehuise in die streek op. Ek tree net gratis op vir mense. Toe ek hoor van die kompetisie, het hulle my laat weet dat ek die Sondag in Kaapstad moet wees vir ’n oudisie. Ek het hulle ingelig dat ek dit nie gaan maak nie. Sondae is in my oë die dag van die Here en ek wou nie my kerk afskeep nie. Soos die Here dit wou hê het hulle my teruggeskakel en gesê dat daar ’n fout was en ek asseblief die Saterdag moet deurkom. Alles het reg uitgewerk. Ek het die Here eerste geplaas en hy het vir my deurgekom,” verduidelik sy.

Sy het haar talent op uitnodiging van ’n talentverkenner by die Kaapstad-oudisies van “It’s Arts Africa” in Maart vanjaar, net voor die inperking, ten toon gestel en het ’n besondere geleentheid gekry om by die Silverstar Casino in Johannesburg in Oktober te gaan deelneem. Hier het sy voor ’n elite-paneel Amerikaanse beoordelaars soos Joey Hunter, direkteur van die International Model and Talent Agency (IMTA), opgetree. Hy is ’n voormalige direkteur van Ford Models in Amerika.

Blaze Johnson van die bekende reeks The Voice, asook Nate Butler en Rhavyn Drummer van Tyler Perry Studios, was ook op die paneel.

Polanda het suksesvol by die International Arts Talent Showcase in Johannesburg gekwalifiseer en het ’n amptelike uitnodiging van die beoordelaars ontvang om Suid-Afrika in die Verenigde State by die wêreld se grootste konferensie en talentskou in Junie aanstaande jaar te verteenwoordig.

“Ek is oorstelp van vreugde. Ek kan nie wag om te gaan deelneem nie. Elke oomblik in my lewe het hiertoe gelei. Die regte tyd vir my is nou.”

Hierdie sangeres van klassieke pop sê hoewel sy as die algemene wen-sanger van die kompetisie in Johannesburg gekroon is, het mense haar vir ’n model misgis.

“Ek het in die ry gestaan en een van die direkteure het sommer aangeneem ek is ’n model ook. Hoewel ek al talle kompetisies in my lewe aangepak – en gewen – het, was dit nogal ’n eer. Ek het ook sommer in daardie kategorie gekwalifiseer,” skerts sy.

Polanda het al baie hartseer in haar lewe beleef en sê sy was al op breekpunt, maar dat die sleutel tot haar sukses haar geloof is en die feit dat sy nooit opgee nie.

Nes haar van, was sy braaf en het geen tragedie haar gekortwiek nie. Nou wil sy vir ander wys hulle kan ook hul drome navolg. . Enigiemand wat Polanda kan borg of betrokke wil raak, kan e-pos aan haar stuur by polandabraaf@gmail.com of haar by 072 130 9432 bel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.