Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Onnie se erfenis blywend

Een van Worcester se bekendste rugby-filantrope, die 78-jarige Andrew John Titus – of Onnie, soos hy aan almal wat sy pad gekruis het, bekend was – is verlede Woensdagoggend aan huis aan natuurlike oorsake oorlede.

Dit volg nadat hy die afgelope bykans drie weke vinnig agteruit gegaan het.

Onnie was die derde oudste van sewe kinders van wyle Andrew en Rose Titus. Hy het sy skoolloopbaan by die bekende NGK Oefenskool begin en aan die destydse Sohnge-opleidingskool voltooi. Daarna het hy as leerling-skrynwerker by die destydse Japie Keyter-kontrakteurs begin en later as vakman in Olifantsfontein gekwalifiseer.

Nadat Keyter sy onderneming gesluit het, het Onnie vir nagenoeg tien jaar in die instandhoudingsafdeling van Rainbow Chickens gewerk. Hierna het hy tot sy aftrede vir ’n verdere 14 jaar by Victoriapark Primêr as hoofopsigter gewerk.

Dit is juis hier waar hy blywende indrukke op opvoeders, leerders asook ouers gelaat het met sy meelewendheid, sy passie vir sy werk en sy liefde vir die leerders van die skool.

Hier het Onnie sommer ook na al die skool se instandhoudingswerk omgesien, hetsy dit messel-, skryn-, of loodgieterswerk of algemene instandhouding was. Hy was altyd daar. Hy het sy passie verder uitgeleef deurdat hy die vooraansig van die skool met groot sorg in ’n lushof omgeskep het.

Volgens die huidige skoolhoof, Ruben Titus, het die muur aan die voorkant as “Oom Onnie se muur” onder die personeel bekend gestaan.

Sy groot liefde was egter rugby en hier het hy vir jare ’n besonderse rol in die uitbou van die spel by sy klub Villagers, asook die res van die spanne in die streek, vervul.

Onnie het hom in 1959 by Villagers aangesluit en hoewel hy slegs vir ’n paar jaar gespeel het, was dit op administratiewe gebied waar hy ’n blywende merk gelaat het. Hy is op jeugdige ouderdom aan die diep kant ingegooi en het vir 19 jaar as voorsitter gedien.

Hy was tot sy afsterwe die ere-president van die klub.

Onnie het ook etlike termyne op die bestuur van die destydse Worcester-rugbyunie gedien. Vir sy besonderse bydraes tot rugby in die Boland het Ivan Pekeur, die ontslape president van Boland, Onnie en nog ’n groot gees in rugbykringe, Thomas van Noi, in 2018 met Boland-erekleure vereer.

Dit het egter nie net by rugby gebly nie. Op geestelike gebied het Onnie ook deeglik sy kant gebring. Hy het vir meer as een termyn as diaken en later ook as ouderling op die kerkraad van die Calvyns Protestante kerk gedien en sy kant gebring met die bou van hul prag-gebouekompleks.

Hy het 44 jaar gelede in die huwelik getree met Veronica le Roux, ’n opvoeder van beroep. Uit die huwelik is twee kinders, Andrew jr. en Faren, gebore. Hy was ook die trotse oupa van drie pragtige kleinkinders. Hy laat ook twee broers en twee susters agter. Sy ander liefde was tuinmaak en naas die tyd wat hy saam met sy vrou, kinders en kleinkinders deurgebring het, het hy ook ure in sy tuin deurgebring. . Onnie word Saterdag (17 Julie) om 10:00 uit die Calvyns Protestante kerk in Leopoldtlaan begrawe.

Die huisdiens is om 09:00 by sy huis by Arhurstraat 9, Victoriapark.

’n Verbyry-gedenkdiens vind vanmiddag (Donderdag) tussen 17:00 en 19:00 in Arthurstaat plaas.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.