Geagte lesers, adverteerders en ons getroue ondersteuners,
Hiermee wil Standard se personeel u inniglik bedank vir u ondersteuning deur wat moontlik een van die moeilikste jare was wat die mediabedryf nog beleef het.
Dit is u deurlopende ondersteuning wat gemaak het dat, selfs toe ons uit nood tydelik saam met ons susterskoerante moes smelt en ’n gesamentlike streeksuitgawe ter wille van oorlewing moes publiseer, ons vandag aan die einde van die jaar kan uitsien met Standard getrou op die winkelrakke van die Breedevallei.
Ons joernaliste moes vanjaar behoorlik plan maak. Tydens die inperking moes elkeen van sy huis af werk. Vir ons het dit beteken dat een in die Kaap was, een in Paarl en een in Robertson, met nuus wat in die Breedevallei uitgesnuffel en gelewer moes word! Maar met ’n bietjie vindingrykheid, deursettingsvermoë – en hope hulp uit die gemeenskap – het ons dit gedoen. Baie dankie daarvoor.
Ons advertensiespan moes skielik aanvaar dat ’n groot aantal ondernemings wat gereeld by ons adverteer, tydelik weens die nasionale inperking moes sluit. Dit was soos ’n kraantjie wat toegedraai is, en ons moes plan maak. Dit het daartoe gelei dat ons en ons susterskoerante Weslander, Hermanus Times, Paarl Post, Eikestadnuus en Distrikspos een koerant moes word, met gedeelde advertensies en gedeelde nuus. Sommige lesers het daarvan gehou, en ander nie, maar dit het ons deur die moeilike tye deurgetrek. Ons bedank almal wat weer terug is om te adverteer, en ons is nou al etlike weke weer ’n eie publikasie.
Ons wens elkeen van u ’n geseënde feestyd toe, en mag 2021 vir ons almal ’n wonderlike jaar wees.