Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Oom Slang’ red 105 slange dié somerseisoen

Met meer as 105 slange wat hy al gevang het en 200 “slangnoodroepe” agter die rug, was die afgelope somerseisoen vir André du Preez ’n besige een.

Die Vallei se kinders ken hom as “Oom Slang”, maar vir plaaslike inwoners is hy iemand wat altyd daar is om gevaarlike en minder gevaarlike slange te kom vang.

André het die afgelope somer (slangseisoen) altesaam 105 slange gevang en is vir meer as 200 “noodroepe” uitgeroep.

“Ek het altesaam meer as 2 200 km gery om slange te red en ’n verdere 1 600 km vir opleidingsessies oor slange vir kinders en plaaswerkers,” sê Du Preez.

Vir hom is slangvang ’n passie. Hy doen dit omdat hy graag wil, nie omdat hy moet nie.

Hy haal diep asem voor hy die getalle begin noem.

“Ek het 47 Kaapse kobras, tien pofadders, vier boomslange, vyf eiervreters, twee ‘redlip heralds’, 12 bruin huisslange, een aurora-huisslang, 13 Karoo-wipslange, drie molslange, ses harlekynslange, een waterslang en een ‘lenandes blind’ gevang. Van die 105 wat ek gevang het was 60% gevaarlike slange.”

Maar André vang nie net slange nie. Hy is ’n paar Saterdae gelede uitgeroep deur ’n vrou wat ’n muishond buite haar huis gesien het.

“Ek het die muishond in ’n hok probeer vang, maar toe kruip dit onder ’n stuk sink weg. Ek het dit toe met die hand gegryp en soos ek dit uittrek, spuit die ding sy stink reuk oor my. Ek het gehoes, my oë het getraan en ek moes my T-hemp later weggooi. Maar ek het die muishond gevang.”

André het vroeër vanjaar ook ’n waterlikkewaan gevang wat in ’n motor se bakwerk weggekruip het. Die likkewaan het ’n “saamrygeleentheid” daarvan gemaak en André moes ta by ’n vulstasie net buite Worcester gaan red.

Hy het die afgelope seisoen in Brandvlei tot in Avianpark en oor die hele Worcester heen slange gevang.

“Permitte kos geld; petrol kos geld. Al dink ek partykeer dat ek net wil opgee, word ek weer herinner dat ek slange vang omdat ek mense wil help. Ek wil mense beskerm deur slange te vang,” sê hy.

Soms word hy tweeuur in die oggend gebel om slange te kom vang en soms selfs wanneer hy braai. Een ding is egter seker: Hy los dit waarmee hy besig is altyd.

“Die hartseerste van alles is dat mense so baie slange doodmaak. Dit is diere wat onskuldig is en nie doodgemaak moet word nie. Dan bel hulle my en vertel dat hulle klaar die slang doodgemaak het. Dit maak my briesend.”

Hy is dankbaar vir almal se hulp die afgelope seisoen.

“Dankie vir almal se ondersteuning. Omdat dit hier nie koud genoeg raak vir ons slange om te hiberneer nie, soek hulle steeds ’n warm plekkie om weg te kruip. Ek word in die winter minder uitgeroep, maar ek is steeds beskikbaar as enigiemand ’n slang gewaar wat gered moet word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.