Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oompie moet nou sy skuld afbetaal
06 September 2018

’n Eertydse belegger in 4th Power Investments het David “Oompie” Cupido, lekeprediker en eienaar van dié omstrede beleggingskema, ’n figuurlike bloedneus in die hof gegee.

Selfs intimidasie deur ondersteuners van Cupido buite die hofgebou kon die eiser in die saak, Christopher Martin, nie stuit om sy geld te probeer terugkry nie.

Boonop het Oompie in die hof gesê hy “leef van die hand van die Here af” en kan net R500 per maand bekostig. Die voorsittende beampte het hom egter beveel om Martin teen R3 000 per maand terug te betaal.

Martin, van Kraaifontein, het R15 000 in September 2016 belê met die hoop dat dit sou groei.

“Mense het my oorreed om ‘in te gooi’. Ek het my motor verkoop en ek het belê. Maande het begin verbygaan en ek het niks van die agente van 4th Power Investments gehoor nie. Niemand het enigsins met my gekom­muni­keer nie,” sê Martin.

Martin vertel hy het self in daardie tyd leer handel ook onder John Yiandros, ’n “mentor” van Cupido. Die kursus is glo in aanlyn-handeldryf met binêre opsies.

“Ek het hom nooit in persoon ontmoet nie, als was aanlyn. Ons het via Skype gekommunikeer en al wat die man die heeltyd sê, is hy kan ’n mens leer om soos David Cupido te wees,” vertel Martin.

Christopher Martin het David 'Oompie' Cupido van 4th power Investments 'n figuurlike bloedneus in die hof gegee.

Volgens Martin het Yiandros gespog Cupido het sy “kursus” in ’n rekordtyd voltooi en hy het sy kennis gebruik om terug te gee vir die gemeenskap.

“Hy beweer dat Cupido als weet van trading, maar volgens my is dit onmoontlik. Ek het nou al by verskeie plekke kursusse geloop en ek weet nog nie eens alles nie,” sê Martin.

Martin sê met sy aankoms by die hof is hy deur mense wat saam met Cupido by die hof was, gedreig.

“Van hulle was sy agente en drie was lyfwagte. Hulle was bombasties en het my rondgestoot. Toe die hof begin, het hulle gekalmeer en moes David self pa staan met die saak.”

Martin sê Cupido het homself eers probeer distansieer van 4th Power Investments, maar hy het kort daarna erken hy is ’n direkteur van die maatskappy.

“David het eers probeer stry dat hy nie geld het om te betaal nie. Hy het gesê hy het nie geld nie omdat hy lewe van die hand van die Here af en hy kan net R500 per maand betaal. Ek het gestry en daar is toe besluit op ’n bedrag van R3 000. Dit sluit die regskostes in,” sê Martin.

Martin voel geregtigheid het vir hom geskied, maar hy weet daar is nog baie mense daar buite wat wag vir geld van die maatskappy af.

“Mense moet ophou bang wees en ’n klag aanhangig gaan maak. Dis al hoe jy jou swaarverdiende geld gaan terugkry. Ek voel die Valke se saak sloer omdat die mense agteroor sit en verwag dinge moet net gebeur. Nee, staan op en neem die saak verder,” sê Martin.

Kort ná die hofverrigtinge het Martin ’n video op sosiale media gedeel. “Ek glo as jy opstaan teen die duiwel, dan gaan jy die duiwel voel. Ek het nie vir een oomblik gedink ek gaan hof toe gaan en dit gaan maklik wees nie. Ek het geweet ons gaan gedreig word. Ek en my vrou word gedreig via sosiale media. Ek voel ’n veer. As hulle voel hulle wil my skiet, dan moet hulle dit doen. Die mense word gedryf deur die entiteite wat tans nog by 4th Power Investments werk. Daai klein groepie van die maatskappy is soos ’n groepie militantes. Die mense is bang om sake te maak, want dan word hulle geviktimiseer,” sê hy.

Standard het talle pogings aangewend om Cupido in die hande te kry, maar geen kommentaar is ontvang teen druktyd nie.

Kapt. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê dat hy tans nog besig is om die saak te ondersoek en in dié stadium geen kommentaar kan lewer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.