Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oorlede ma se graf is ‘skoonveld’

Toe Sona Janse van Rensburg se ma, Cornelia, in 2005 in ’n ongeluk dood is, het dit die familie hard getref. Nou, 14 jaar later, is haar ma se graf “weg”. Niemand kan haar help nie en ou wonde word oopgekrap.

Toe Sona se broer Daniël Maree in Februarie oorlede is, was dit sy laaste wens om saam met hul ma in ’n dubbele graf in Villiersdorp se begraafplaas begrawe te word. Dit is waar hul familie se probleme begin het.

“Om die dood van ’n geliefde te verwerk, neem jare en soms kry ’n mens se siel nooit vertroosting nie. My broer, wat in Villiersdorp gewoon het, se laaste wens was dat hy by ons ma begrawe moet word. Toe hy ter ruste gelê moes word, kon niemand vir ons sê waar die graf is nie. Ons is vier moontlike grafte gewys, omrede die register nie my ma se besonderhede bevat het nie,” vertel ’n hartseer Sona.

Doves-begrafnisdienste het destyds haar begrafnis gereël, maar het ook geen idee waar presies die graf is nie.

“Ons hou nie boek van wie waar begrawe word nie,” sê John Adams, bestuurder van Doves in Worcester. “Die munisipaliteit gee nie vir ons grafnommers nie. Jy bespreek ’n graf by hulle en as hulle byvoorbeeld vier begrafnisse op een dag het, maak hulle vier grafte gereed en voorkeur word gegee aan wie ook al eerste begrawe word. Al wat ons hou en verskaf as bewys van ons dienste is ’n kwitansie, maar dit is om die finansiële inligting deur te gee. Dit was lank gelede – in 2005 – en die werker wat dit destyds hanteer het, werk nie eens meer hier nie.”

Sona sê haar broer is dood in sy huis aangetref en dit is ’n baie teer saak.

“Toe ons die munisipaliteit besoek om die graf oop te maak om hom te begrawe, het hulle gesê ons ma se graf is ‘weg’. Op daardie oomblik het ek gedink iets is nie reg nie. Ek was verslae en het gewonder of ek reg gehoor het. Hoe kan ’n graf ‘weg’ wees? Dit is moeilik om die familie se emosies te beskryf,” sê ’n emosionele Sona.

Die Theewaterskloof-munisipaliteit het bevestig dat hul rekords en die registerinligting ontbreek.

“Die munisipaliteit doen ’n ondersoek om die graf op te spoor,” het Hugo Geldenhuys, woordvoerder van die Theewaterskloof-munisipaliteit, bevestig.

Een moontlikheid is dat die dubbelgraf die naamlose graf naby ’n boom kan wees, maar verdere ondersoek sal dit moet bepaal. Die enigste mens wat weet presies waar Cornelia begrawe lê, is Daniël, wat in Februarie oorlede is.

“Wat Daniël betref – daar is nie iets soos ’n tydelike graf nie. Die munisipaliteit kan nie nou kommentaar lewer oor ’n moontlike herbegrafnis en opgrawings nie,” het Hugo gesê.

Johan Rousseau van die begrafnisbedryfwaghond Fira (Funeral Industry Reformed Association), sê die saak is ontstellend, maar iets wat hulle kon voorspel as die huidige bestuur, beheer en wetgewing rakende begraafplase in ag geneem word.

“Die Grondwet bepaal dat die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), tesame met die Suid-Afrikaanse vereniging van plaaslike regerings (Salga), in beheer van die begraafplase, krematoriums en begrafnisondernemers moet wees, maar dis die afgedwonge verantwoordelikheid wat na plaaslike en provinsiale wetgewers verplaas is. Dit is ’n wesenlike kommer dat geen wetgewing vir Cogta bestaan nie.”

Fira praat al die afgelope 20 jaar oor knelpunte wat vandag nog nie ingestel is nie.

“Salga was sedert 2001 met ons (Fira) in gesprek. Ons het hul nasionale vergadering toegespreek en ons hulp aangebied om sake soos hierdie te probeer voorkom en wetgewing ingestel te kry,” sê Rousseau.

Sona sê mense moet seker maak waar hul geliefdes begrawe is. “Dit is onbeskryflik emosioneel. Gaan gereeld na die graf om seker te maak jy onthou waar dit is. Mag niemand hierdie aaklige nagmerrie deurmaak nie,” sê Sona.

Rousseau sê hierdie saak grens aan gruwelike nalatigheid en die munisipaliteit moet ten volle verantwoordelik gehou word vir alle kostes asook die opgrawing en die herbegrafnis van die broer. “Om nie eens van die emosionele en psigiese impak op die familie te praat nie – dit is ’n skande. Die begrafnisondernemers moet rekord hou van waar mense begrawe word – dit is protokol.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.