Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oud-onnie sit Fiësta in sy sakkie
Lloyd Davids



’n Akteur, skrywer en oud-onderwyser van Worcester is onlangs by die gesogte KykNET Fiësta-toekenningsgeleentheid vereer vir sy bydrae tot teater en dramateks wat oor kleur- en dorpsgrense strek. Die produksie het altesaam drie toekennings huis toe geneem, waarop die span baie trots is.
Lloyd Davids, ’n boorling van Heidelberg in die Suid-Kaap en seun van die legendariese akteur Goliath Davids, het nog altyd ’n liefde vir die teaterwêreld gehad. Op hoërskool in Riversdal het hy al grootoog na sy pa opgekyk en besef dit is ’n voorliefde wat hy deel.
Hy het betrokke geraak by die kunswêreld en het reeds op skool sy passie en talent vir teater uitgeleef. Hy was aangewys as beste akteur by ’n toneelfees en het in produksies soos Kanna hy kô Hystoe gepronk. Dit is waar dit vir hom begin het.
Na skool het Davids as ’n onderwyser gekwalifiseer en in die Kaap by ’n skool as taalonderwyser aangesluit, maar sy roeping was nog nie heeltemal vervul nie.
“Daar was ’n pos as drama-onderwyser by Worcester Sekondêre Skool (WSS) en ek het aansoek gedoen. Ek het my lewe opgepak en Worcester toe verhuis om my passie uit te leef – vir drie dekades was ek betrokke by die skool en die teaterdepartement,” vertel hy.
Lloyd Davids
Lloyd Davids se tekste handel oor versoening. Met ’n Fiësta-toekenning in die hand en ’n foto van Madiba in die agtergrond is dit beduidend dat Davids sy doel vervul.
Natuurlik het sy liefde nie net gegroei op die verhoog nie, maar sy pen het gebrand om oorspronklike tekste te skep – elk met ’n boodskap van versoening geskoei op die stories van doodgewone mense.
In die laat 1980’s en deur die 1990’s skep hy die teks van Queenie-hulle, ’n verhaal sò eie aan elke dorp en sy mense. Swaarkry en sosiale kwessies is ook van die knelpunte waardeur die karakters gaan.
Davids se kleinneef, Christo Davids, - ook beter bekend as Errol van 7de Laan - se teater-vuur het ook van kleins af gebrand.
“Christo is nes die res van ons baie passievol oor die bedryf. Hy het al in talle verhoogproduksies gespeel, die regie daarvan behartig en ook naam vir homself gemaak in die Suid-Afrikaanse teaterwêreld. Hy het my gekontak en gesê dat hy die teks wil aanpas en dan aanbied by feeste – ek was verheug,” vertel hy.
Queenie-hulle is geskep in Davids se kop en is geskoei op interaksies van stories eie aan die van die Wes-Kaap en selfs Worcester. Kerkplein, straathoeke, straatmense en Valleiers was sy inspirasie, maar waaroor gaan die toneel self?
“Die groep bergies wat jare lank die Good Hope Centre in Kaapstad se trappe hul tuiste gemaak het, het nie ’n normale dag op kantoor nie: Jerry het net ’n R2-tip gekry vir twéé úre se kar oppas, iemand het die gemeenskaplike dop gedrink, en Queenie daag op met ’n eviction notice van die stadsraad, en dit boonop op verkiesingsdag! Hoe nou gemaak? Hulle sal begin met ’n brief aan die government, of nee, ’n memorandum. Whitey het at least Engels gehad tot in Standerd 8, so hy weet, raait? To whom it may concern,” verduidelik hy passievol.
Queen-hulle is by talle kunstefeeste in die land aangebied, onder leiding van die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom. Die produksie sal ook vanjaar sy buiging maak voor gehore by die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees in Oudsthoorn.

Die rolverdeling sluit in name soos Louw Venter, Jill Levenberg, Brendon Daniels, Lynelle Kenned en Jaques de Silva.

Lloyd en Christo slaag daarin om ’n swaar onderwerp aan te pak, relevant vir die hedendaagse Suid-Afrika.

“Lloyd en Christo slaag daarin om ’n swaar onderwerp aan te pak, relevant vir die hedendaagse Suid-Afrika. Die realiteit van konflik, haweloosheid en ander swaar temas wat ons daagliks ervaar, is iets wat hulle fassineer. Christo pak daarom met sukses swaar onderwerpe aan, relevant vir ’n hedendaagse Suid-Afrika en kry dit reg dat dit vir gehore werk,” sê feesbestuurder van Aardklop, Alexa Strachan wat saam met Christo aan die produksie geskaaf het.
Queenie-hulle is ’n tragiese komedie. Die humor is skreeusnaaks en mense sal dit waardeer en geniet. Nietemin ontwikkel die kyker empatie en simpatie met die karakters. Haweloosheid is tans ’n baie relevante tema as gevolg van die wetgewing en daar is ’n outcry in die Kaap omdat haweloses beboet word as hul op straat slaap.
“Die ironie is dat die toneelstuk afspeel op die trappe van die Goeie Hoop-sentrum, want het ons nog hoop? Tog is die aanbieding uitstekend in ’n verteerbare formaat en kan beslis aanbeveel word,” vertel Alexa en Davids.
By die Fiëstas se kroningsgeleentheid op Sondag 9 Februarie het die span ’n toekenning ontvang vir beste aanbieding of produksie uit sowat 230 stukke, Brendon Daniëls het beste akteur gewen en natuurlik het Lloyd en Christo beste teks gewen.
“Dit was ’n wonderlike ervaring en ons is baie trots op dit wat ons vermag het en die kans wat ons het om die storie te vertel,” sê Davids.
Alhoewel hy nog in Worcester woon, is hy en sy hele familie nog betrokke in Heidelberg by ’n projek wat eer bring aan sy pa en die liefde vir teater wat elkeen het.
“Die Goliath Davids Legacy-projek het ten doel om die impak van armoede, misdaad en MIV en Vigs op jong mense in die Hessequa-streek te verminder. Die doel van die projek is om jaarliks ‘The Goliath Davids / Hessequa Arts Festival’ aan te bied - waarby jongmense – primêre en sekondêre skole, dramagroepe, werklose jeug en dwelmmisbruikers van al die dorpe in die omgewing – betrokke is,” sê Davids.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.