Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Oudste kleuterskool vier fees

Die oudste kleuterskool in Worcester, Sonnestraal-kleuterskool, vier vanjaar sy 60ste bestaansjaar.

Die gedagte aan die noodsaaklikheid van voorskoolse onderwys en ’n sentrum waar dit kon plaasvind, het reeds in 1958 sy beslag gekry toe die destydse Ouer-Onderwysersbond (T.L.S.A) ná deeglike oorweging aan die gemeenskap in ’n volgepakte saal in die Julie Naudé-crèche in Le Sueurstraat bekend gemaak is. Omdat dit groot byval by die gemeenskap gevind het, is ná die eerste opvolgvergadering op 21 April 1959 besluit om die kleuterskool Worcester Sonstraal-kleuterskool te noem. Op die volgende vergadering op 16 Junie 1959 is egter besluit op die naam Sonnestraal-kleuterskool, ’n naam wat intussen sinoniem met die gemeenskap geword het.

Die eerste groep van 13 kleuters het aan huis van wyle Essop Ismail (vader van die bekende Ismail-broers Anwar, Ceraj en Nizaam) begin met Milly Schroeder wat hulle smiddae ná skool onder haar vlerk geneem het.

Van die begin van 1960 af het Dulcie Baartzes ook die kleuters soggens besig gehou. Sonnestraal het in 1962 met Baartzes in hul huidige gebou in Kerkhofstraat met ongeveer 20 kleuters begin. Vyf jaar later (1967) het Ellen Kleintjes haar by Baartzes aangesluit en aan die einde van 1997 ná 30 jaar afgetree.

Duisende kleuters het intussen hul grondslag vir skool by Sonnestraal begin. Oor die jare het mans en vroue uit alle sfere van die samelewing as kleuters deur Sonnestraal se deure gegaan. Onder hulle kan genoem word dr. Brian Wilson, hoof van curriculum-ondersteuning by die plaaslike Obos en al sy broers asook hul suster, Vivian; die Narotam-broers wat later albei bekende aptekers op die dorp was; wyle Riyhaad Williams, prokureur en later burgemeester; die bekende prokureur Dudley Davids; die tandarts dr. Kevin Smith; honderde opvoeders wat almal later diep spore in die onderwys kom trap het; die Ismail-broers; al die kinders van wyle Imam Latoe; en ds. Jeff Fransman, om maar net ’n paar te noem, het almal Sonnestraal Kleuterskool bygewoon.

Twee van die oorspronklike stigterslede, Dinah Wilson en Henogh Haas, leef nog. Wilson het nie net vir jare as sekretaresse op die kleuterskool-bestuur gedien nie, maar ook nog gereeld haar gewig ingegooi wanneer hulle op haar nommer druk. Hiermee saam het Johnny Heradien langer as 45 jaar na Sonnestraal se geldsake omgesien en kom hy nog gereeld inloer om die huidige personeel en bestuur met kundige raad te bedien.

Sonnestraal beoog verskeie gesellighede vir 2019 om dié besonderse mylpaal te vier. Die kleuterskool het Sondag 3 Maart begin met ’n feesdiens wat gelei is deur die oudleerder eerw. Mario Davids, terwyl die huidige opsigter, Gerald Bailey, die feesgangers met ’n solo-item vergas het. Die brigade van die VGK Worcester-Oos het ook by die diens opgetree. ’n Pretdag word Saterdag 6 April gehou. Sonnestraal hou 3 September sy debutante-geselligheid en 14 September word ’n optog met vlotte deur die strate van Worcester gehou.

Die feesjaar word 17 November luisterryk met ’n dankseggingsdiens afgesluit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Worcester Standard Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.